AfriForum se honde-eenheid skerp gereedheid op tydens operasionele inoefening
AfriForum se honde-eenheid in Brits het op 20 Junie in samewerking met hul flankspanne ’n operasionele inoefening in die Krokodildrift-Wes-gebied buite Brits gehou. Die oefening is met toestemming van een van AfriForum se lede op sy plaas aangebied en het gefokus op veldoptrede, spanformasies, die agternasit van verdagtes en spoorwerk.
Altesaam 16 lede het aan die oefening deelgeneem. Auryn Nicholas, Leonie Nicholas en Quintis van Jaarsveldt van AfriForum se Hartbeespoort-buurtwag het die oefening saam met Thys van Heerden, Marius Kearns, Stephan Roos, Carin de Bruin, Lizette Greeff, JC van Jaarsveldt, JC Naudé, Barend Willemse, Conrad Willemse, Charl Bezuidenhout, Barend Engelbrecht, Hendrik Engelbrecht en Max Bayer van AfriForum se Brits-buurtwag bygewoon.
Die honde wat aan die oefening deelgeneem het, was Diesel van Brits en Loki van Hartbeespoort.
Die doel van die oefening was om die eenheid se vaardighede en gereedheid verder op te skerp met spesifieke fokus op formasies wat optimaal kan funksioneer wanneer verdagtes tydens moontlike voorvalle opgespoor moet word.
Tydens die oefening is verskillende flankformasies getoets om te bepaal watter benadering die beste saam met die honde en hul hanteerders werk. Die span het bevind dat ’n aangepaste omgekeerde V-formasie na agter die mees doeltreffende benadering tydens spoorsny is. Handgebare is ook saam met die formasies ingeoefen sodat elke lid duidelik weet wat tydens die proses gebeur en sodat die span stil en gekoördineerd kan optree.
“Sulke inoefeninge is uiters belangrik omdat dit verseker dat elke lid sy rol binne die span verstaan. Wanneer die hondehanteerder, spanleier en flanklede as ’n eenheid saamwerk, verbeter dit die span se vermoë om veilig, georganiseerd en doeltreffend op te tree,” sê Stephan Roos, leier van AfriForum se Brits-buurtwag.
Die oefening het spesifiek daarop gefokus om samewerking tussen die hondehanteerder, die spanleier en die ondersteunende flanklede te verbeter. Die hondehanteerder beweeg voor met die hond, terwyl die spanleier kort agter hom posisie inneem. Waarnemende flanklede beweeg weerskante van die spanleier in ’n ondersteunende formasie en verleen bystand aan die span soos nodig.
Tydens die oefening is daar nie van ’n hommeltuig gebruik gemaak nie, aangesien die volle fokus op die formasies, handgebare en samewerking tussen lede binne die spanne geplaas is. Daar is ook van spoorlopers gebruik gemaak om spore neer te lê, wat ná die nodige veroudering deur die hondespanne gevolg is.
“AfriForum is baie trots op die honde-eenheid se toewyding en die talle ure wat aan opleiding bestee word. Hierdie tipe voorbereiding dra direk by tot gemeenskapsveiligheid en versterk die eenheid se vermoë om ’n waardevolle rol in plaaslike veiligheid te speel,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.
AfriForum se Brits-buurtwag bedank elke lid wat aan die oefening deelgeneem het, asook die grondeienaar wat sy plaas vir die inoefening beskikbaar gestel het. Hierdie samewerking en toewyding dra direk by tot ’n veiliger gemeenskap.
Om betrokke te raak by AfriForum se Brits-buurtwag, skakel Roos by 073 188 3223.



