AfriForum-buurtwag begelei skoolbus uit Pretoriase middestad weens kommer oor veiligheid

AfriForum se Groter Pretoria-Oos buurtwag het gisteraand ’n bus met ongeveer 50 leerders van Laerskool Garsfontein vanaf die Staatsteater in Pretoria tot by die skool begelei nadat dié buurtwag genader is om die leerders se veiligheid te help verseker. Leerders het ’n revue-vertoning by die Staatsteater bygewoon in ’n deel van die stad wat deesdae selfs bedags ’n groot risiko van misdaadinsidente inhou.
Die buurtwag het tussen 21:00 en 22:00 oor die skoolbus gewaak en toegesien dat die leerders en hul onderwysers veilig hul bestemming bereik. Verskeie ander skole het ook private veiligheidsmaatskappye gebruik om hul busse uit die gebied te begelei. Dié begeleiding vorm deel van die rol wat gemeenskapsveiligheidstrukture toenemend speel, veral in areas waar openbare polisiëring onvoldoende is om mense werklik te beskerm.
AfriForum se Noord van die Berg-buurtwag het op 5 Augustus in samewerking met GAC Risk Solutions en Maximum Security dieselfde rol vir vier busse vol leerders van die Laerskool Wonderboom en die Hoërskool Overkruin vervul.
“Dit behoort nie nodig te wees dat skole dié soort veiligheidsmaatreëls moet tref bloot om kinders veilig van ’n kultuurgeleentheid af huis toe te kry nie. Die werklikheid is egter dat gemeenskappe toenemend self moet optree om ’n rol te vervul waarin die staat vaal,” sê Maree van den Berg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria.
“Sterk en georganiseerde gemeenskapsveiligheidstrukture het noodsaaklik geword en die afwenteling van polisiëringsmagte sal misdaad vinniger en meer doeltreffend help bekamp. Intussen moet gemeenskappe self die vermoë bou om op te tree en mekaar te beskerm.”
AfriForum se buurtwagte speel reeds ’n aktiewe rol om gemeenskappe in Pretoria veiliger te maak en sal voortgaan om in te gryp waar hulp benodig word. Inwoners word aangemoedig om by AfriForum se veiligheidstrukture aan te sluit. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.



