| | |

AfriForum-protospanlid red homself en ander gedurende gewapende roof

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)

’n Gewapende rower het die middag van 23 September ’n AfriForum-protospanlid en ander persone in Bronkhorstspruit oorval en van hul besittings beroof. Gedurende dié voorval kon die protospanlid uiteindelik daarin slaag om die situasie te ontlont en sy eie asook die veiligheid van diegene saam met hom, te verseker.

Die protospanlid en die ander slagoffers het die middag ná werk by sy kar gestaan en gesels toe die verdagte opdaag en sy wapen op hulle gerig het. Hy het die slagoffers gedwing om hulle sakke leeg te maak en gekyk wat hy uit die voertuig kon steel. Die protospanlid het kalm gebly, die verdagte se opdragte uitgevoer en die situasie dopgehou tot ’n geleentheid na vore gekom het om op te tree.

Die verdagte het vir ’n oomblik sy aandag verslap om te kyk wat hy in die voertuig kon steel en die protospanlid kon sy eie wapen trek en die rower beveel om sy wapen neer te lê. Die verdagte het aanvanklik geweier en sy wapen steeds op die ander slagoffers gerig gehou, wat die protospanlid genoop het om ’n skoot af te vuur. Die verdagte is gewond en sy vuurwapen is afgeneem en veilig gemaak.

Die protospanlid het toegesien dat die verdagte na ’n hospitaal vervoer word sodat daar na sy wond omgesien kan word waarna die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ontbied is om die saak verder te hanteer.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor Gemeenskapsveiligheid, is dié voorval ’n praktiese bewys van waarom behoorlike opleiding van gemeenskapsveiligheidsvrywilligers noodsaaklik is.

“Hierdie lid het hom in ’n lewensgevaarlike situasie bevind waar ’n enkele verkeerde besluit ernstige gevolge kon hê. Hy het kalm gebly, die situasie deurlopend beoordeel en eers opgetree toe dit nodig geword het om lewens te beskerm. Ná die skietery het hy die bedreiging beheer, die vuurwapen veilig gemaak en selfs verseker dat die gewonde verdagte mediese behandeling ontvang. Dit is presies die soort dissipline en oordeel wat ons deur opleiding by ons lede wil vestig.”

AfriForum het reeds meer as 500 protospanlede opgelei as deel van sy landswye netwerk van 177 buurt- en plaaswagte. Hierdie opleiding berei vrywilligers voor om as eerste reageerders tydens ernstige en gewelddadige voorvalle op te tree.

“Gemeenskapsveiligheidsvrywilligers word dikwels met gevaarlike situasies gekonfronteer lank voordat die polisie of ander nooddienste op die toneel kan wees. Daarom kan ons nie van vrywilligers verwag om hierdie werklikheid met goeie bedoelings alleen aan te pak nie. Hulle moet behoorlik opgelei, toegerus en voorbereid wees,” sê Broodryk.

“Hierdie voorval wys waarom ons in opleiding belê. Wanneer sekondes die verskil tussen lewe en dood kan beteken, moet ’n mens onder geweldige druk steeds die regte besluite kan neem. Goed opgeleide gemeenskapsveiligheidslede is ’n belangrike deel van die stryd teen misdaad en van gemeenskappe se vermoë om hulself te beskerm,” sluit Broodryk af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid