| | |

AfriForum verskerp buurtpatrollies in Oos-Rand ná vlaag moorde

Klankgreep: Yvonne Gerber (Afrikaans)

AfriForum het aangekondig dat hy sy veiligheidsfokus aan die Oos-Rand gaan verhoog deur middel van verskerpte buurtwagpatrollies en verdere veiligheidsopleiding aan gemeenskapslede. Dié aankondiging kom te midde van die onlangse vlaag moorde op vroue en die voorkoms van ander ernstige misdade in Kempton Park en omliggende gebiede.

Die burgerregteorganisasie se sewe buurtwagte in die breër Oos-Rand, gesetel in Kempton Park, Benoni, Boksburg, Brakpan, Alberton, Springs en Germiston, met sy opgeleide lede, bevestig dat hulle hul veiligheidsparaatheid sal verhoog en samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) sal voortsit.

Volgens Yvonne Gerber, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, laat nuus oor die moorde sowel as die voorkoms van ernstige misdaad in die streek, inwoners vreesbevange. “Die situasie ís ernstig en daarom moedig ons inwoners aan om, wanneer dit by hul eie veiligheid kom, nie net op veiligheidsowerhede staat te maak nie. Wees eerder bewus van die risiko’s en bemagtig jouself sover moontlik deur verantwoordelikheid te neem vir jou eie veiligheid. Gryp geleenthede vir veiligheidsopleiding aan, bly waaksaam en raak betrokke by georganiseerde gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe in jou gemeenskap,” verduidelik Gerber.

Betrokkenheid by plaaslike georganiseerde veiligheidstrukture, soos AfriForum-buurtwagte, is onontbeerlik, meen Gerber. “AfriForum se buurtwagte is opgelei om verdagte aktiwiteite te identifiseer en die relevante inligting met die toepaslike owerhede te deel. In omstandighede soos dié wat tans aan die Oos-Rand afspeel, is die gemeenskap die oë en ore wat uiteindelik ’n kritieke rol sal speel in die voorkoming van soortgelyke misdade en moontlik selfs die aankeer van verdagtes,” hou Gerber vol.

“Ons kan nie voorspel waar of wanneer die volgende misdaad gaan plaasvind nie, maar ons kan verseker dat ons gemeenskappe beter voorbereid is. Opleiding, waaksaamheid, kommunikasie en samewerking speel ’n kritieke rol in die beperking van risiko’s en flinke reaksie wanneer nood druk.”

Opleidingsgeleenthede by AfriForum bemagtig gemeenskapslede onder meer met die vermoë om veiligheidsrisiko’s beter te identifiseer, beter noodkommunikasie toe te pas, persoonlike veiligheid te verbeter, groter situasiebewustheid te kweek, verdagte situasies en noodprosedures korrek te hanteer. 

“Gemeenskapsveiligheid is nie daarop gemik om die werk van wetstoepasingsowerhede te vervang nie, maar eerder om gemeenskappe se eie veiligheidsvermoë te versterk,” benadruk Gerber.

’n Groter bewustheid van persoonlike veiligheid verg ook nie altyd formele opleiding nie, meen Gerber. Haar raad aan inwoners is om, te midde van die huidige vlaag misdaad aan die Oos-Rand, die volgende eenvoudige veiligheidsreëls toe te pas:

  • Herevalueer jou daaglikse veiligheidsroetines.
  • Wees bewus van jou omgewing.
  • Vermy geïsoleerde gebiede sover moontlik.
  • Hou geliefdes op hoogte van jou bewegings.
  • Hou noodkontakte byderhand.
  • Rapporteer verdagte persone of voertuie dadelik.
  • Moenie probeer om self verdagtes te nader nie.

Raak betrokke en bly veilig

AfriForum doen ’n beroep op inwoners van die Oos-Rand om betrokke te raak by hul plaaslike veiligheidstrukture, geleenthede vir veiligheidsopleiding te benut en relevante inligting dadelik met die toepaslike veiligheidsrolspelers te deel. Kontak Gerber (081 217 8579 of yvonne.gerber@afriforum.co.za) om by een van AfriForum se Oos-Rand-buurtwagte in te skakel.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf