Nuwe reeks op AfriForumTV: Vaste fondamente
Vaste fondamente is ’n dokumentêr waarin kykers help om Klein-Asië (vandag Turkye) deur ’n Bybelse bril te bekyk. Dit is nie bloot ’n reisjoernaal wat ou ruïnes, pilare en toeristebestemmings besoek nie, maar ’n geloofsreis wat die sigbare wêreld van Turkye in Afrikaans met die wêreld van die Nuwe Testament verbind. Baie besoek “Klein-Asië” met die hoop om hul Christelike wortels te herontdek, en keer dan terug met vol kameras, ’n belewenis van die ryk Turkse kultuur en velerlei historiese brokstukke. Vaste fondamente wil dieper delf en hoër kyk om duideliker te sien hoe die Here sy kerk gebou en bewaar het te midde van vervolging, dwaalleer, en groot historiese wendings. In elf episodes bring Vaste fondamente Bybelse insig, geskiedkundige konteks en ’n belewenis van Turkye bymekaar, sodat gelowiges die erfenis van die vroeë kerk nuut kan waardeer en self met groter sekerheid op die vaste fondamente van die Christelike geloof kan staan.

Episodes
Toe die dae vervul is …
Kyk hoe God Klein-Asië as kruispunt tussen Oos en Wes voorberei het met paaie, ’n gemeenskaplike taal, vrede en ’n netwerk van sinagoges vir die koms van die evangelie.
Die leefwêreld van die vroeë Christelike kerk
Kom stap in die skoene van die vroeë kerk: sinagoges, markpleine, boukuns, skryfkuns, boerdery, pottebakkery, tekstiel en juwele wat die evangelie help verduidelik het.
Johannes, die geliefde
Johannes die geliefde: sy familie, opvoeding en tyd saam met Jesus, sy rol as pilaar van die vroeë kerk en sy jare as leier van die kerk in Efese.
Paulus
Paulus: van vurige Fariseër en vervolger tot toegewyde prediker. Sy sonde, sy bekering op pad na Damaskus, sy naam en sy roeping onder die heidene van Klein-Asië.
Paulus se sendingsreise
Volg Paulus se drie sendingsreise oor meer as 16 000 km deur Klein-Asië, Griekeland en Rome waar hy gemeentes plant en die evangelie verkondig.
Efese
’n Kosmopolitiese sentrum van kultuur en handel, met die tempel van Artemis, die biblioteek van Celsus en die skouburgteater asook die ryke boodskap van Paulus se brief.
Die Oorwinnaar en sy martelare
Die verheerlikte Christus in Openbaring: Johannes op Patmos, die vervolging onder Nero en Domitianus, en martelare soos Polikarpus wat getrou gebly het.
Die sewe briewe in Openbaring (1)
Die eerste twee van die sewe briewe: Efese, geprys vir sy stryd teen dwaalleer, maar teruggeroep na haar eerste liefde, en die arm dog ryk gemeente van Smirna.
Die sewe briewe in Openbaring (2)
Die briewe aan Pérgamus, waar die troon van Satan en kompromie dreig, en Thiatíre, geprys vir groeiende liefde en diens maar gewaarsku teen Isébel se dwaalleer.
Die sewe briewe in Openbaring (3)
Die laaste drie briewe: Sardis wat skynbaar lewe, maar dood is, die getroue Philadelphia en die geopende deur, en die lou, selfvoldane gemeente van Laodicéa.
Kerkvaders, kerkvergaderings en kerke
Kerkvaders soos Polikarpus, die groot konsilies van Nicéa, Konstantinopel, Efese en Chalcedon, en die Hagia Sophia – die erfenis wat ons geloof help vorm het.
Hierdie reeks is onder AfriForumTV se In die kollig-en/of Geestelik-kategorie.
AfriForumTV is gratis en uiters gebruikersvriendelik. As jy nog nie geregistreer het nie, doen dit nou! Besoek www.afriforumtv.co.za indien jy toegang deur jou skootrekenaar, rekenaar of tablet wil kry. Andersins, laai die toep by die Google playstore vir slimfone, slim-TV’s en/of TV-boksies af.
Stuur gerus ’n e-pos na navrae@afriforumtv.co.za indien jy enige navrae het.
Ons is ook op sosiale media. Volg ons nou vir al ons nuus:
- X
- YouTube
- TikTok
- WhatsApp – klik hier: https://whatsapp.com/channel/0029VajIpTLJpe8i9owiNh14



