AfriForum help Waterkloof-woongebied met nuwe straatligte ná inwoners self R150 000 insamel
AfriForum het vandeesweek die inwoners van die Waterkloof Palms Estate gehelp om hul woongebied te belig én te beveilig nadat hul straatligte vir sowat ses jaar lank buitewerking was. Die burgerregteorganisasie het die vervanging van 42 straatligte in die gebied behartig nadat hierdie gemeenskap self bykans R150 000 ingesamel het vir die projek.
Die straatligte, wat in Highstraat en Damweg geleë is, is oor die afgelope drie dae met werkende ligte vervang wat teen 10 000 lumens skyn. Dié soort lig voldoen aan die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se standaarde vir straatligte; bied ’n wye, helder ligstraal wat ontwerp is om padtekens en voetgangers duidelik te kan sien; en verbruik uiters min elektrisiteit.

AfriForum het dié projek gefasiliteer as deel van sy memorandum van verstandhouding met die Tshwane-metro. Dit magtig AfriForum om verskeie uitdagings ten opsigte van die beveiliging en beskerming van eiendom en die omgewing in dié metro te takel.
Maree van den Berg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria-Suid, sê die inwoners was moeg daarvoor om vir die metro te wag om die straatligte te vervang, so hulle het besluit om self iets daaraan te doen.
“Die gebied is vir jare lank in donkerte gehul en sonder werkende straatbeligting was die risiko van inbrake en gewapende rooftogte baie hoog. Werkende straatligte help nie net motoriste om in swak beligte gebiede te ry nie, maar dien ook as ’n belangrike afskrikmiddel vir misdadigers,” sê hy.
Luidens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se jongste misdaadstatistieke het die meeste eiendomsverwante misdade in Pretoria vir die vierde kwartaal van die 2025/2026-boekjaar in die Brooklyn-polisiestasie se polisiëringsgebied plaasgevind. Waterkloof val onder dié polisiëringsgebied waar altesaam 390 gevalle van onder meer inbrake en motordiefstal aangemeld is.
“Donker strate is onveilige strate. Inwoners is moeg daarvoor om te vra vir basiese dienste, so nou neem die burgerlike samelewing stelselmatig self hierdie funksie oor,” sluit Van den Berg af.



