|

Hoe gemaak as die nuus jou kwaad maak

Dalena Beyers, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum

Nuus is belangrik, want dit is veronderstel om die groter geselskap verantwoordbaar te hou. Tog weet mediahuise al baie jare lank dat nuus wat die beste verkoop, gaan oor die dinge wat mense ontstig en ontstel. Of dit nou kwaad-maak-emosies is of ruk-jou-hart-hartseer-emosies, dit gaan daarom om die leser (of kyker) emosioneel betrokke te kry en daardeur die interaksie met die “nuus” te verleng. Hoe langer jou aandag by die berig, video of sosialemediaplasing is, en hoe meer die plasing jou emosioneel vasvang, hoe meer suksesvol is dit. Of dit werklik ’n bydrae tot die groter gesprek maak, en of dit die wêreld ’n beter plek maak, is nie meer van belang nie.

Die afgelope week se nuus was weer ’n goeie bewys hiervan. Van oudministers wat beskuldigings rondslinger sonder om verantwoordelikheid te aanvaar en verloopte politiese kommentators wat armswaai vir relevansie tot polities gedrewe xenofobiese uitsprake wat dui op ’n afwesigheid van basiese menslikheid, was dit genoeg om baie emosies in die publiek wakker te skud. ’n Mens is skoon uitgeput ná jy die nuus gelees het, en dan het jy nog nie eens jou dag begin nie.

Om ingelig te wees, is nie net om te weet wat aangaan nie, maar ook om ’n eie mening oor die gebeure te kan vorm, en te weet hoe dit inpas by jou lewens- en wêreldbeskouing; met ander woorde, strook dit met jou waardes en geloofsoortuiging, en indien nie, wat is die les wat jy daaruit kan leer? Daarvoor is dit nodig om nuus te oordink en nie bloot te reageer nie.

Dit is ’n strategie van moderne nuushuise (en hul betaalmeesters) om ons aanhoudend te oorweldig met net nog nuus, nog ’n skandaal, nog ’n groter ongeluk, nog ’n bedrogspul. Alles volg so vinnig opmekaar, jy kan skaars die berig deurlees voor nog ’n video voor jou oë inspring en skree: “Kyk hier! HET JY DIT GEWEET??”

Dit is deels ook die gevolg van hoe ons deesdae nuus ontvang – heeltyd, orals en met elke elektroniese apparaat wat aan die internet gekoppel is. Dit is onmoontlik om nie die nuus te sien nie, behalwe as jy doelbewus totaal ontkoppel en jou kop in jou dop intrek. Sou dit die oplossing wees? Nee, ook nie, want sonder insig oor wat rondom jou gebeur, trek jou vermoë om iets te kan verander, ook noustrop.

En hier is die kruks van die saak: Wat maak jy met die nuus wat jy inneem?

Maak dit jou verbitterd, kwaad en lus om onmiddellik op die plasing te reageer, of kan jy die inligting oordink en rustig besluit, hier begin my verantwoordelikheid om iets daaraan te verander? In plaas daarvan om jou energie te verspil op ’n sosialemediaplasing wat in die oomblik soos ’n lekker terugklap voel, voeg eerder jou tyd en energie by ’n gemeenskap wat bou. Ons opdrag as gelowiges is tog om ook hier op aarde aan die koninkryk te werk.

Nuus moet jou motiveer om die wêreld ’n beter plek te maak, om betrokke te raak en skeppend deel te neem.

Ons moet bou en nie deur die nuus gebreek word nie. Daarom is dit veel beter om te streef na dit wat Romeine 12:21 sê: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf