|

AfriForum eis optrede van Matjhabeng-munisipaliteit ná bejaardes in riool gedompel word

AfriForum het die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit vandeesweek versoek om dringend ondersoek in te stel na die rioolprobleme wat reeds maande lank ’n eiendom in Kerkstraat, Welkom teister. Die voortslepende verskyning van riool in die huis en erf tas die inwoners, wat twee bedlêende bejaardes insluit, se gesondheid en waardigheid ernstig aan.

Volgens Karen Joubert, ’n inwoner van die betrokke eiendom, stoot riool deur die toilet op en vloei dit vrylik deur die woning. Rou riool hoop ook in die erf op en staan plek-plek enkeldiep. Die probleem duur volgens Joubert reeds maande lank, ondanks vele oproepe en noodkrete aan die Matjhabeng-munisipaliteit.

“Ons sit met twee bedlêende bejaardes wat onder hierdie onmenslike omstandighede moet leef. Die riool stoot gereeld op en ons het herhaaldelik om hulp gevra, maar niemand kom uit om die probleem op te los nie,” sê Joubert.

Loodgieters wat genader is om die probleem te ondersoek, het volgens Joubert bevestig dat die verstopping nie op die private eiendom se rioolstelsel voorkom nie, maar by die munisipale rioollyn wat die eiendom in Kerkstraat bedien.

AfriForum het reeds verskeie versoeke aan die munisipaliteit gerig, maar die pogings om die betrokke munisipale werkers en amptenare telefonies te bereik, was tot dusver onsuksesvol en oproepe word eenvoudig nie meer beantwoord nie.

“Die situasie is veel meer as bloot ’n ongerief. Rou riool wat maande lank deur ’n erf en woning vloei, hou ’n ernstige gesondheids- en omgewingsrisiko in – nie net vir Joubert en die twee bedlêende bejaardes nie, maar ook vir die omliggende gemeenskap en omgewing,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

“Dit is onaanvaarbaar dat inwoners tussen rou riool moet leef terwyl hul noodkrete onbeantwoord bly. Die behoorlike instandhouding van munisipale rioolinfrastruktuur is nie ’n guns wat die munisipaliteit aan inwoners doen nie. Die munisipaliteit het ’n wetlike plig om behoorlike sanitasiedienste te lewer.”

AfriForum eis daarom dat die munisipaliteit onmiddellik optree om die riool te verwyder, die verstopping op te spoor en die nodige herstelwerk te doen. Indien die munisipaliteit steeds versuim om sy wetlike verpligtinge na te kom, sal AfriForum verdere stappe doen om die munisipaliteit tot optrede te dwing. AfriForum sal voortgaan om druk op die munisipaliteit uit te oefen totdat die probleem behoorlik opgelos en die gesondheidsgevaar uit die weg geruim is.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf