| |

AfriForum stel ultimatum aan Matlosana-munisipaliteit oor rou riool wat steeds in Vaalrivier vloei

Die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit het tot môre (10 September) kans om ’n uitvoerbare herstelplan rakende die beweerde storting van onbehandelde riool vanaf die Hartbeesfontein-rioolsuiweringsaanleg aan AfriForum se Klerksdorp-tak voor te lê en die besoedeling daar te staak of minstens te beperk. ’n Voorlopige AfriForum-ondersoek toon dat die aanleg ná sowat tien maande steeds nie-operasioneel is en oor geen behandelingsvermoë  beskik nie.

Die organisasie eis voorts dat die munisipaliteit onafhanklike watermonsters laat neem en sy watergebruiksmagtiging en uitvloeitoetsresultate bekend maak, gemeenskappe stroomaf in kennis stel van die besoedeling en met die rehabilitasie van die besoedelde waterloop begin.

Indien die munisipaliteit versuim om teen die spertyd onmiddellike beheermaatreëls in te stel en ’n plan voor te lê, sal AfriForum voortgaan om klagtes teen die munisipaliteit aanhangig te maak by die Departement van Water en Sanitasie (DWS), die Groen Skerpioene, die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK), die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Dié dringende ultimatum volg in reaksie op AfriForum se onlangse besoek aan die aanleg. AfriForum-verteenwoordigers het die aanleg besoek as deel van sy jaarlikse watergehalte-waarnemingoudit waartydens die gehalte van drinkwater en behandelde afvalwater getoets word. Tydens die besoek het die wanfunksionaliteit van die aanleg duidelik geword. ’n Munisipale werknemer het AfriForum ook verhinder om ’n monster van die uitvloeiwater te neem. Die werknemer het onder meer aangevoer dat riool wat na die Hartbeesfontein-aanleg gepomp word, nie behandel word nie en direk in die nabygeleë Jagspruit vloei.

Dié spruit vloei nagenoeg 30 km suidwes van Hartbeesfontein in die Skoonspruit voordat dit by die Vaalrivier aansluit.

AfriForum se waarneming strook met bevindinge wat ’n parlementêre oorsiggroep in Mei vanjaar gemaak het. Afgevaardigdes het die Hartbeesfontein- en Klerksdorp-aanlegte besoek en “ernstige infrastruktuurmislukkings” teëgekom wat tot die storting van onbehandelde riool in plaaslike rivierstelsels lei. Die groep het voorts bevestig dat die Hartbeesfontein-aanleg reeds sedert Desember verlede jaar buite werking is weens erge verstoppings by die inlaatpunte en dat onbehandelde riool daarom in die Jagspruit en dan die Vaalrivier vloei.

Planne om die besoedeling hok te slaan, loop egter volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, veels te stadig. “Die besoedeling vind al minstens die afgelope tien maande plaas, en die parlement se afgevaardigdes was ook reeds vier maande gelede op die terrein. Hier het hulle boonop erken dat dringende intervensie noodsaaklik is en dat die verantwoordelike persone voor stok gekry moet word – tog het daar nog niks verbeter nie en rou riool vloei steeds onbelemmerd in een van Suid-Afrika se belangrikste waterstelsels in,” benadruk Pretorius.

“Die Vaalrivierstelsel is volgens DWS dié belangrikste grootmaatwatervoorsieningstelsel in die land en voorsien water aan 46% van die land se ekonomie en 33% van die bevolking. Die besoedeling van hierdie kritieke waterbron hou dus verreikende gevolge in vir mens, dier, die omgewing én die ekonomie,” verduidelik sy.

Sy wys ook daarop dat waterbesoedeling ’n skending van artikel 29 van die Grondwet is. Daarbenewens vereis artikel 19 van die Nasionale Waterwet dat redelike stappe gedoen moet word om waterbesoedeling te voorkom, te beperk en reg te stel, terwyl artikel 151 van dieselfde wet voorsiening maak vir strafregtelike aanspreeklikheid vir onwettige optrede of versuim wat tot die besoedeling of waarskynlike besoedeling van ’n waterbron lei.

SW Scott, voorsitter van AfriForum se Klerksdorp-tak, meen die munisipaliteit se hantering van die probleem tot op hede laat veel te wense oor. “Ons het hier nie net te make met net nóg ’n diensleweringsmislukking nie – hierdie besoedeling hou ’n ernstige bedreiging in vir openbare gesondheid, die omgewing en watersekerheid en die munisipaliteit moet nou ingryp en pa staan vir dié ramp,” sê Scott.

Sluit vandag nog aan by AfriForum se Klerksdorp-tak. Kontak SW Scott (082 806 7484) vir meer inligting.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid, Magsmisbruik