AfriForum eis inligting oor vervalle Pilditch-stadion se finansies, instandhouding
AfriForum het Vrydag ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (“PAIA”) aan die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit gerig om onder meer inligting rakende die Pilditch-stadion in Pretoria-Wes se finansies te bekom. Deur die PAIA-aansoek eis die organisasie volle deursigtigheid oor fondse wat van skole ontvang is, asook die stadion se uitgawes en begroting ten einde te bepaal hoe openbare fondse aangewend word en of die metro sy verpligtinge nakom. Verder vra AfriForum ook vir inligting oor die kontrakteurs verantwoordelik vir die stadion se instandhouding en die skedules vir hierdie instandhouding.
Die PAIA-aansoek volg ná die voortgesette agteruitgang van die Pilditch-stadion en die metro se totale versuim om basiese instandhouding daar te doen. Nadat talle klagtes oor die haglike toestand van die fasiliteit ontvang is, het AfriForum onlangs – in samewerking met skole en gemeenskapsrolspelers – opknappings aan die stadion gedoen in die aanloop tot vanjaar se prestige interhoër-atletiekbyeenkoms.
AfriForum het reeds Donderdag ’n formele brief aan die metro gerig waarin die organisasie antwoorde eis oor die bestuur, instandhouding en finansies van die stadion. Dit is veral kommerwekkend siende dat deelnemende skole yslike bedrae betaal om aan die byeenkoms by die stadion deel te neem, terwyl geen ooreenstemmende vlak van dienslewering sigbaar is nie.
“Gemeenskappe wat genoop word om die munisipaliteit se mees basiese dienste oor te neem, is bewys van die metro se onvermoë en onwilligheid om sy verantwoordelikhede na te kom. AfriForum sal toesien dat deursigtigheid verkry word en dat die munisipaliteit aanspreeklik gehou word vir enige wanbestuur van openbare fondse,” sê Maree van den Berg, AfriForum se distrikskoördineerder van Pretoria.
AfriForum sal volgehoue druk op die metro toepas om die vereiste inligting te verskaf en sal intussen voortgaan om praktiese oplossings, soos gemeenskapsgedrewe skoonmaak- en instandhoudingsprojekte te implementeer om diensleweringsmislukkings te takel.
AfriForum moedig Pretoria-inwoners aan om hul stem by die petisie te voeg en sodoende druk op die Tshwane-metro uit te oefen om die inligting wat aangevra is, beskikbaar te stel.






