AfriForum ondersoek status van Suid-Afrika se strategiese brandstofreserwes te midde van wêreldwye energiekrisis
Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie gestuur waarin gedetailleerde inligting en duidelikheid oor die land se strategiese brandstofreserwes versoek word. Dit kom te midde van ’n verergerende wêreldwye energiekrisis as gevolg van die eskalerende Iran-konflik. Kenners het kommer uitgespreek oor die feit dat Suid-Afrika moontlik net twee tot drie weke se brandstofreserwes oor het met pryse wat na verwagting in April sal styg. Dit is ver onder die wêreldwye maatstawwe, wat reserwes vir minstens 90 dae vereis. Die regering hou vol dat daar geen rede tot paniek is nie, maar weier steeds om die stand van die land se brandstofreserwes bekend te maak.
Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, het die Strategiese Brandstoffonds (SFF) se “Oilgate”-skandaal van 2016 weer 10 jaar later ’n warm debat ontketen namate onsekerheid en geheimhouding die status van Suid-Afrika se strategiese brandstofreserwes omring. “Baie mense het vergeet dat die ANC-geleide Suid-Afrikaanse regering in 2015/2016 meer as 10 miljoen vate van die land se strategiese oliereserwes verkoop het en in die proses bedrieg is,” sê Van Zyl voorts.
Die transaksie was belaai met onreëlmatighede en geheimhouding en dit is onthul dat die SFF se destydse waarnemende uitvoerende hoof, Sibusiso Gamede, miljoene in verdagte betalings, na bewering omkoopgeld, ontvang het gedurende die tyd wat die transaksies plaasgevind het. In 2020 het die Hooggeregshof in Kaapstad hierdie olieverkope omvergewerp en beslis dat dit onwettig, ongeldig en deur korrupsie geteister was. Die finansiële skade was egter reeds aangerig, op belastingbetalers se koste, en die fondse wat nodig was om die land se lae strategiese brandstofreserwes te verhoog, is vermors.
Deur middel van sy PAIA-aansoek het AfriForum die Departement versoek om die volgende inligting te verskaf:
1. Die mees onlangse amptelike gedokumenteerde hoeveelhede van Suid-Afrika se bewese, waarskynlike en moontlike strategiese brandstofreserwes.
2. ’n Jaar-op-jaar-uiteensetting van wisselinge in Suid-Afrika se strategiese brandstofreserwes oor die afgelope 10 jaar, insluitend enige veranderinge in klassifikasie of verslagdoeningsmetodologie.
3. ’n Jaar-op-jaar-rekening van hoe Suid-Afrika se strategiese brandstofreserwes oor die afgelope 10 jaar gebruik is, insluitend:
- Hoeveelhede wat jaarliks vrygestel of verbruik word.
- Die doeleindes waarvoor reserwes gebruik is (bv. strategiese voorsiening, noodgevalle, markstabilisering, verkoop of ander gebruike).
- Enige beleide of besluite wat sodanige gebruik rig.
4. Enige interne of opdragverslae wat energiesekuriteit in verband met strategiese brandstofreserwes bespreek.
5. Inligting oor vennootskappe of samewerking met internasionale entiteite rakende die ontwikkeling van strategiese brandstofreserwes.
6. Enige beleide of raamwerke wat die openbaarmaking, klassifikasie of vertroulikheid van strategiese brandstofreserwedata beheer.
AfriForum het vroeër vandeesmaand Enoch Godongwana, die minister van Finansies, versoek om verligting aan die Suid-Afrikaanse ekonomie en verbruikers te bied deur die brandstofheffing te verlaag.



