| |

AfriForum eis antwoorde van NDOV oor Gupta-uitleweringsproses

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)
Klankgreep: Jacques Broodryk (Engels)

AfriForum het vandeesweek ’n versoek aan Andy Mothibi, die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings (NDOV) gerig om terugvoer en duidelikheid te kry oor die huidige status van die proses om lede van die Gupta-familie aan Suid-Afrika uit te lewer. Lede van die Gupta-familie moet uitgelewer word ten einde vervolg te word vir hul beweerde betrokkenheid by korrupsie, bedrog, geldwassery en ander oortredings verwant aan staatskaping.  

Volgens AfriForum bly die Gupta-saak een van die mees skadelike korrupsieskandale in die land se demokratiese geskiedenis en het dit die openbare vertroue in staatsinstellings en die strafregstelsel ondermyn.

“As ’n organisasie wat meer as 300 000 lede oor die land heen verteenwoordig, glo AfriForum dat die publiek deursigtigheid verdien oor wat gedoen word om verantwoordbaarheid in een van die land se grootste staatskapingskandale te verseker,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor Gemeenskapsveiligheid.

AfriForum versoek onder meer duidelikheid oor:

  • die huidige regs- en diplomatieke status van die uitleweringspogings;
  • of hernieude uitleweringsaansoeke of onderhandelinge aan die gang is;
  • watter struikelblokke die proses steeds belemmer;
  • of alternatiewe regsweë oorweeg word; en
  • die mate van samewerking tussen Suid-Afrikaanse owerhede en internasionale wetstoepassingsagentskappe.

Broodryk meen dat dit onaanvaarbaar is dat inwoners van die land jare ná bewerings van staatskaping aan die lig gekom het, steeds geen duidelikheid het oor of betekenisvolle vordering gemaak word om die Gupta-familie voor ’n Suid-Afrikaanse hof te bring nie.

“Die voortgesette vertragings en gebrek aan duidelikheid skep die persepsie dat individue met politieke bande vir ’n onbepaalde tydperk aanspreeklikheid kan ontduik. Só persepsie is skadelik vir openbare vertroue in die oppergesag van die gereg,” voeg Broodryk by.

AfriForum beklemtoon verder dat gelykheid voor die reg konsekwent moet geld, ongeag politieke invloed of finansiële mag.

“As daar van gewone landsburgers verwag word om die gevolge van beweerde misdadige optrede te dra, moet dieselfde standaard geld vir individue wat betrokke is by grootskaalse korrupsie en staatskaping. Niemand behoort onaantasbaar te wees nie,” het Broodryk bygevoeg.

Die organisasie verwag ’n amptelike reaksie vanaf die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en sal aanhou om die saak noukeurig te moniteer.

Soortgelyke plasings

Veiligheid