| | |

AfriForum eis antwoorde oor sluiting van Vaalpark-oorlaaistasie en verval van munisipale dienslewering

AfriForum soek antwoorde vanaf die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit ná dit bekend geword het dat die Vaalpark-oorlaaistasie reeds ongeveer ’n maand gelede gesluit het glo aangesien dié stasie sy kapasiteit bereik het en vullis nie verwyder kan word nie. Die oorlaaistasie kan nie leeggemaak word nie aangesien verskeie van die munisipaliteit se vullisverwyderingsvragmotors tans buite werking is.

AfriForum het vroeër vanjaar ook sy kommer uitgespreek oor die Metsimaholo-munisipaliteit se aanstelling van kontrakteurs om dienste te verrig terwyl munisipale werknemers en toerusting volgens berigte onderbenut word. Die munisipaliteit se antwoord was dat die kontrakteurs slegs aangestel word waar spesialiswerk vereis word of waar daar onvoldoende munisipale kapasiteit bestaan. Die huidige situasie by die Vaalpark-oorlaaistasie strook egter nie met dié versekering nie.

AfriForum het kennis geneem van berigte dat munisipale voertuie wat vir vullisverwydering gebruik moet word, buite werking is en dat werknemers gevolglik nie hul pligte kan uitvoer nie. Volgens die organisasie dui dit op ernstige tekortkominge in vlootbestuur, beplanning en finansiële prioritisering.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, hou die situasie ernstige gesondheids-, veiligheids- en omgewingsrisiko’s vir inwoners in. “Dit is onaanvaarbaar dat ’n munisipale oorlaaistasie vir so ’n lang tydperk buite werking is omdat die munisipaliteit nie sy eie voertuie operasioneel kan hou nie. Intussen word inwoners aan swak dienslewering blootgestel terwyl belastingbetalers steeds vir hierdie dienste betaal.”

“Die vraag wat inwoners tereg vra, is waarom die munisipaliteit steeds groot bedrae aan kontrakteurs bestee terwyl sy eie voertuie onbruikbaar staan. Daardie geld behoort eerder aangewend te word om die munisipale vloot te herstel en dienslewering te normaliseer,” sê David Wright, voorsitter van AfriForum se Sasolburg-tak.

AfriForum wys daarop dat die Grondwet munisipaliteite verplig om dienste op ‘n volhoubare wyse te lewer en ’n veilige en gesonde omgewing te bevorder. Daarbenewens plaas die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelselswet 36 van 2000 en die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur  56 van 2003 ’n plig op munisipaliteite om openbare hulpbronne doeltreffend te bestuur en noodsaaklike dienste te verseker.

In ’n skrywe aan die Metsimaholo-munisipaliteit het AfriForum onder meer geëis dat die munisipaliteit binne sewe dae verduidelik:

  • waarom die oorlaaistasie reeds ongeveer ’n maand lank gesluit is;
  • hoeveel vullisverwyderingsvoertuie tans buite werking is;
  • watter stappe gedoen word om die voertuie te herstel;
  • hoeveel geld gedurende die huidige boekjaar aan kontrakteurs vir vullisverwydering bestee is; en
  • wanneer inwoners kan verwag dat normale dienslewering hervat sal word.

“Ons sal nie toelaat dat inwoners die prys betaal vir swak bestuur en gebrekkige beplanning nie. Indien die munisipaliteit nie dringend optree nie, sal AfriForum die saak na die toepaslike toesighoudende owerhede verwys om moontlike wanadministrasie en vermorsing van openbare fondse te ondersoek,” uit Pretorius af.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak en -buurtwag betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: Kontak vir David Wright by 083 301 9933.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf