AfriForum eis permanente oplossing vir voortdurende rioolramp in Pretoria-Noord
AfriForum doen ’n beroep op dr. Musa Khumalo, waarnemende stadsbestuurder van die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit, om dringend ’n permanente oplossing te kry vir die voortdurende rioolbesoedeling in Koos de la Rey-straat in Pretoria-Noord.
Die hoofrioollyn in dié straat loop reeds vir weke lank oor en veroorsaak dat rou riool deur die straat vloei en selfs by omliggende ondernemings instroom. Hoewel die Tshwane-metro nou en dan ’n suigtenk stuur om die drein oop te maak, is dit net ’n tydelike oplossing en herhaal die probleem hom binne enkele dae weer.
“Dit is onaanvaarbaar dat belastingbetalers week ná week dieselfde probleem moet aanmeld sonder dat die onderliggende oorsaak ondersoek en herstel word. Die munisipaliteit se huidige optrede plak net ’n pleister en doen niks om ’n volhoubare oplossing te bied nie,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se woordvoerder vir Pretoria.
AfriForum is van mening dat die herhalende aard van die probleem daarop dui dat daar waarskynlik ’n infrastruktuurfout bestaan wat slegs deur ’n deeglike ondersoek vasgestel en permanent herstel kan word. AfriForum het voorheen toestemming verkry om hierdie probleem te ondersoek en te herstel, maar is toe die proses sou begin ingelig dat die metro nou wel self daarna sou kyk.
Die voortdurende vloei van rou riool in die strate hou ernstige gesondheids- en omgewingsgevare in veral aangesien die riool deur ’n besige area loop waar verskeie bedrywighede plaasvind, onder meer kosstalletjies waar kos voorberei word en verkoop word aan die publiek.
In sy skrywe aan Khumalo herinner AfriForum die stadsbestuurder daaraan dat die metro ’n grondwetlike verpligting het om vir inwoners ’n skoon en veilige omgewing te skep en hulle teen risiko’s soos hierdie te beskerm.
AfriForum versoek die Tshwane-metro om die volgende te doen:
- ’n Volledige tegniese ondersoek van die hoofrioollyn;
- inspeksies en ander infrastruktuurondersoeke uit te voer om die werklike oorsaak van die herhalende rioolprobleem vas te stel;
- ’n permanente oplossing te implementeer;
- die skade aan die padoppervlak wat deur die rioolvloei veroorsaak is te herstel; en
- onmiddellike maatreëls te tref om die gesondheidsrisiko’s aan die publiek te beperk.
Die organisasie gee die Tshwane-metro sewe werksdae om skriftelik terugvoer te gee oor die beoogde herstelplan en die tydsduur om dit te implementeer.
“Hierdie situasie kan nie langer met tydelike oplossings bestuur word nie. Die inwoners en ondernemings in Pretoria-Noord verdien basiese munisipale dienste en ’n veilige, gesonde omgewing,” sluit Hemmens af.
Besoek www.wordlid.co.za om by jou naaste tak aan te sluit en só ’n verskil in jou omgewing te maak.



