AfriForum en Nama-Afrikaner-familiestam in Suid-Afrika sluit geskiedkundige ooreenkoms
AfriForum en die Nama-Afrikaner-familiestam in Suid-Afrika het vandag ’n geskiedkundige erkennings- en samewerkingsverdrag in Pretoria onderteken. Hulle het onder meer onderneem om die verwesenliking van kultuurregte en volwaardige erkenning asook versterking van kulturele identiteit, erfenis, en gemeenskapselfstandigheid en -ontwikkeling te bevorder.
“Die ondertekening van hierdie erkennings- en samewerkingsverdrag is ’n belangrike mylpaal op die lewensreis van ons onderskeie kultuurgemeenskappe. Ons gemeenskappe staar groot en dringende uitdagings in die gesig en daarom is dit noodsaaklik dat kultuurgemeenskappe hande vat sodat praktiese oplossings gevind en in werking gestel kan word. Ek sien uit na die positiewe impak wat ons samewerking vir gewone mense op voetsoolvlak gaan maak,” sê gaob (kaptein) Karl Afrikaner, voorsitter van die Tradisionele Huis van Afrikaner-familiestam SA.

“Dit is vir AfriForum ’n voorreg om hierdie geskiedkundige verdrag met gaob Afrikaner en die Nama-Afrikaner-familiestam SA aan te gaan. Ons verstaan dat dit uiteindelik praktiese optrede is wat ’n verskil in mense se lewens maak én ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir ons gemeenskappe verseker. Die mense wat AfriForum probeer isoleer met oningeligte en kwaadwillige uitsprake staan gelukkig nie in ons pad om met ander kultuurgemeenskappe bande te smee en saam ’n toekoms te bou nie,” verduidelik Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.
Die doel van dié ooreenkoms is om ’n blywende verhouding te vestig en te handhaaf ten einde ewigdurende vrede en vriendskap tussen die Nama-Afrikaner-familiestam SA en Afrikaners te verseker. Dit is ook daarop gemik om dié kultuurgemeenskappe se ontwikkeling op verskeie maniere te bevorder, deur onder meer die:
- bevordering van gemeenskapselfstandigheid en selfbestuur;
- behoud en beskerming van kulturele identiteit en erfenis;
- beskerming van eiendomsreg;
- bevordering van gemeenskapsveiligheid;
- bevordering van moedertaalonderrig;
- samewerking in terme van voedselsekerheid en landbouontwikkeling; en
- bevordering van interkulturele versoening en dialoog.
Die volgende beginsels vorm die grondslag van die ooreenkoms:
- wedersydse erkenning en respek;
- ’n vreedsame naasbestaan;
- aanvaarding van mekaar se identiteit, blywendheid en bestaan as outonome kultuurgemeenskappe in suidelike Afrika;
- die prerogatief van kultuurgemeenskappe om hul eie belange te bestuur en hul eie instellings tot stand te bring en te onderhou sonder die inmenging van die staat of enige ander entiteit;
- respek vir die diversiteit van regeringsinstellings, gebruike en gewoontes, insluitende dié wat verband hou met grondgebruik en -eienaarskap; en
- vryheid van geloof en kulturele gebruike.

Volgens Barend Uys, hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, werk AfriForum hard daaraan om brûe tussen Afrikaners en ander kultuurgemeenskappe te bou omdat goeie verhoudings en samewerking tussen verskillende kultuurgemeenskappe onontbeerlik is om ’n vreedsame en voorspoedige naasbestaan in die land te verseker.
“AfriForum en Afrikaners in die breë kies, soos Van Wyk Louw geskryf het, om in geregtigheid voort te bestaan. Dit is vir ons ’n eer om ’n bondgenoot van die Nama-Afrikaner-familiestam SA te wees in hierdie poging om ’n ruimte te skep waar toekomstige geslagte in vrede naas mekaar voluit kan leef, hier aan die suidpunt van ons geliefde Afrika,” sê Uys.
“Ek is met hoop vervul omdat ons ook ’n Nama-weergawe van die verdrag onderteken het. Die behoud en bevordering van Nama, veral onder ons kinders, is vir ons baie belangrik en die ondertekening van die ooreenkoms wat in Nama geskryf is, is ’n praktiese tentoonstelling van ware wedersydse erkenning en respek,” sluit gaob Afrikaner af.
AfriForum het voorheen reeds soortgelyke ooreenkomste gesluit met die Jamangile KaMabandla- koninklike familie in die Oos-Kaap; die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi in Noordwes; die Barolong Boo Seleka en Batlokoa Ba Mota in die Vrystaat; die Bakgatla Ba Kgafela in Noordwes en Mochudi (Botswana); die Batlharo Ba Ga Motlhware in die Noord-Kaap; die Ndebele-organisasie Vulamehlo Kusile Organisation (VUKO) en die Royal Leaders of South Africa (ROLESA). Hierdie ooreenkomste het al tot verskeie projekte op voetsoolvlak gelei, insluitend projekte wat fokus op landbouontwikkeling, erfenis, kulturele identiteit en inheemse tale.




