AfriForum dien PAIA in ná George-munisipaliteit se stilswye oor kamerastelsel
AfriForum het vandag ’n formele aansoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) by die George Munisipaliteit ingedien om die munisipaliteit te dwing om inligting bekend te maak oor sy besluit om bestaande gemeenskapsveiligheidsrolspelers se toegang tot die munisipale kameranetwerk te beëindig. Die PAIA-aansoek volg nadat AfriForum se pogings om die aangeleentheid deur samesprekings en formele korrespondensie op te los deur die munisipaliteit van die hand gewys is.
Dr. Dean O’Neill, waarnemende munisipale bestuurder, het reeds op 7 Oktober skriftelik aangedui dat die munisipaliteit nie bereid is om met AfriForum oor die aangeleentheid te vergader nie. AfriForum het hom daarna op 21 Oktober direk tot die uitvoerende burgemeester, Browen Johnson, gewend en dringende ingryping en ’n vergadering versoek.
Gegewe die owerhede se voortdurende weiering om met gemeenskapsveiligheidsrolspelers te vergader gebruik AfriForum nou die formele PAIA-proses om die dokumente en inligting te bekom waarop die munisipaliteit se besluit gegrond is.
“AfriForum het van die begin af probeer om hierdie saak deur gesprek op te los. Die munisipaliteit het geweier om met ons te vergader en ons formele skrywe aan die burgemeester bly onbeantwoord. As die munisipaliteit nie bereid is om die besluit met die betrokke rolspelers te bespreek of ons vrae te beantwoord nie, het ons geen ander keuse as om die beskikbare wetlike prosesse te gebruik om deursigtigheid en antwoorde af te dwing nie,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
AfriForum versoek deur die PAIA onder meer:
- die formele besluit, resolusie of opdrag waarvolgens bestaande rolspelers se toegang tot die kameranetwerk beëindig is, asook die redes, aanbevelings en risikobeoordelings waarop die besluit gegrond is;
- dokumentasie oor die probleme, tekortkominge of risiko’s wat volgens die munisipaliteit die beëindiging van bestaande toegang genoodsaak het;
- rekords van enige konsultasie, vergaderings of kommunikasie met geraakte veiligheidsrolspelers voordat die besluit geneem is, of enige bestaande rekord wat verduidelik waarom geen voorafgaande oorlegpleging plaasgevind het nie;
- die beleid, prosedure of protokol vir die nuwe verifiëringsproses, asook dokumentasie oor die doel, noodsaaklikheid en grondslag daarvan; en
- die kriteria en standaarde waaraan rolspelers moet voldoen om weer toegang te verkry, asook die verwagte tydraamwerk vir die afhandeling van aansoeke.
Die uitsluiting beperk die vermoë van rolspelers om verdagte voertuie en misdaadvoorvalle deur die kameranetwerk te moniteer en reaksies te koördineer. ’n Verdagte voertuig kan byvoorbeeld tot by George gevolg word en dan effektief van die breër veiligheidsnetwerk se radar verdwyn omdat rolspelers wat voorheen kon help om die voertuig se verdere bewegings te moniteer, nie meer toegang het nie.
“AfriForum vra nie dat die munisipaliteit sy beheer oor sy infrastruktuur prysgee nie. Ons vra waarom ’n bestaande veiligheidsvermoë sonder behoorlike oorlegpleging afgesny is, waarop daardie besluit gegrond is en waarom die munisipaliteit nie bereid is om daaroor met gevestigde veiligheidsrolspelers in gesprek te tree nie,” sê Erasmus.
“Gemeenskapsveiligheid kan nie in insolasie bedryf word nie. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), munisipaliteite, buurtwagte, plaaswagte en ander gemeenskapsveiligheidsrolspelers het mekaar nodig. Wanneer ’n besluit hierdie samewerking belemmer, is dit redelik om te verwag dat die munisipaliteit bereid sal wees om sy besluit te verduidelik en daarvoor rekenskap te gee.”
AfriForum sal die inligting wat deur die PAIA-proses bekom word, bestudeer om vas te stel hoe die besluit geneem is, of die veiligheidsgevolge daarvan behoorlik oorweeg is en watter verdere stappe nodig is.



