|

Munisipaliteit trek skouers op terwyl AfriForum Christiana se vullis vir week lank wegry

Die Lekwa-Teemane Plaaslike Munisipaliteit versuim al nagenoeg twee weke om vullisverwyderingsdienste in onder meer Christiana te lewer omdat die vullisverwyderingsvragmotor vir herstelwerk gestuur is. Volgens AfriForum is dit verregaande van die munisipaliteit om te verwag dat inwoners se vullis onbepaald in hul erwe ophoop, daarom het AfriForum se Christiana-tak die afgelope week ingespring en inwoners se vullis self begin verwyder. Dié tak het reeds sowat vyf vragte vullis opgelaai en weggery.

“Die munisipaliteit behoort dienslewering, waarvoor inwoners betaal, op ’n gereelde en betroubare grondslag te lewer, ongeag watse uitdagings dit in die gesig staar. Die versuim om ’n alternatiewe vorm van dienslewering voort te sit is ’n skending van die munisipaliteit se pligte teenoor inwoners,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

In ’n skrywe versoek AfriForum dat die munisipaliteit ’n duidelike plan saamstel waarin uiteengesit word hoe alternatiewe vullisverwydering deur die munisipaliteit dadelik voortgesit gaan word, wanneer normale dienslewering hervat sal word en watter maatreëls ingestel sal word om te voorkom dat soortgelyke onderbrekings in die toekoms plaasvind.

AfriForum versoek verder dat die munisipaliteit die voordele van ’n memorandum van verstandhouding met AfriForum ondersoek. Só ’n ooreenkoms kan ’n grondslag bied vir samewerking om diensleweringsprobleme prakties aan te spreek en te verseker dat inwoners die dienste ontvang waarop hulle geregtig is.

“Die gemeenskap kan nie voortdurend die gevolge van ontbrekende dienslewering dra nie. Vullisverwydering is ’n noodsaaklike munisipale diens wat direk met die leefgehalte en gesondheid van inwoners verband hou. AfriForum verwag dat die munisipaliteit dringend met ’n konkrete plan vorendag kom sodat die gebiede wat geraak word nie in ’n enorme vullishoop omskep word nie,” sê Nel.

AfriForum is bereid om met die munisipaliteit saam te werk om praktiese oplossings vir die gemeenskap se diensleweringsprobleme te vind. Die organisasie beklemtoon egter dat samewerking gepaard moet gaan met verantwoordbaarheid en ’n duidelike verbintenis tot volhoubare dienslewering.

Die burgerregteorganisasie sal voortgaan om druk op die munisipaliteit uit te oefen om dienslewering voort te sit.

Skakel Jp Nel by 081 217 1627 om by AfriForum aan te sluit en ’n daadwerklik verskil in jou dorp teweeg te bring.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf