AfriForum-buurtwag werk onverpoos om Oudtshoorn veiliger te maak
AfriForum se Oudtshoorn-buurtwag het gedurende Augustus deur gereelde patrollies, veiligheidsoudits en vinnige optrede ’n daadwerklike bydrae tot die veiligheid van die plaaslike gemeenskap gelewer.
Die buurtwag het gedurende Augustus ongeveer 80 afsonderlike patrollies onderneem. Elke patrollie het gemiddeld twee uur geduur en sowat 30 km gedek. Dit verteenwoordig altesaam ongeveer 120 patrollie-ure en amper 2 400 km wat deur vrywilligers afgelê is om ’n sigbare veiligheidsteenwoordigheid in die gemeenskap te handhaaf.
Hierdie patrollies is egter net een deel van die buurtwag se werk. Lede het ook gedurende die maand by twee voorvalle betrokke geraak wat tot die identifisering of aanhouding van verdagtes gelei het.
AfriForum se Oudtshoorn-tak het op 11 Augustus ’n veiligheidsoudit by Hoërskool Gimnasium gedoen nadat ’n skootrekenaar uit die skoolhoof se kantoor gesteel is. Videomateriaal van die voorval is bekom, verwerk en versprei. Met behulp van Blacklist Security is ’n duideliker beeld van die verdagte verkry en onder relevante rolspelers versprei. Bronne is ook genader en, met die hulp van Harry Coetzee, eienaar van Blacklist Security, is ’n verdagte binne ’n dag geïdentifiseer. Die verdagte is op 16 Augustus deur die sektorbevelvoerder, adjudant-offisier Du Plessis, in hegtenis geneem. Die saak word onder MAS 503/6/2026 ondersoek.
Op 18 Augustus het ’n AfriForum-buurtwaglid deur stemboodskappe op ’n plaaslike veiligheidsgroep verneem van ’n verdagte wat na bewering hospitaalbedtoerusting gesteel het. Die persoon is deur ’n beampte van Blacklist Security opgemerk waar hy in Voortrekkerweg geloop en daarna in Jakarandalaan ingedraai het. Die buurtwaglid se dogter het die verdagte opgemerk toe hy by hul huis verbyloop. Die buurtwaglid het onmiddellik gereageer en die verdagte, met behulp van ’n buurman, aangekeer. Die voorval het kort ná 17:00 plaasgevind.
M Sec Sekuriteit en die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het daarna die verdagte in hegtenis geneem. Verdere ondersoek het vermoedelik gesteelde eiendom aan die lig gebring, waaronder trompoppieklere wat uit ’n houer by Van Reede-skool gesteel is, asook drie Volkswagen-wieldoppies (stofdoppe wat in die middel van ’n wiel geplaas word). ’n Saak van besit van gesteelde eiendom is geopen.
Die voorval beklemtoon ook ’n nuwe misdaadtendens waarvan motoriste bewus moet wees: Volkswagen-wieldoppies word klaarblyklik geteiken en gesteel.
Hoewel daar toegewyde individuele polisie- en wetstoepassingsbeamptes is wat hulp verleen, ervaar inwoners dat ondersteuning vanaf die polisie en die munisipale wetstoepasssing nie altyd voldoende is nie. Hierdie gebrek aan konsekwente polisiëring plaas ’n geweldige las op inwoners en besigheidseienaars, en skep ’n gulde geleentheid vir misdadigers.
“Dit is juis waarom ’n aktiewe en goed georganiseerde buurtwag so belangrik vir die gemeenskap is. Die buurtwag vervang nie die polisie nie, maar dien as ’n noodsaaklike ekstra paar oë en ore. Lede kan verdagte bedrywighede opmerk, inligting vinnig versprei, veiligheidsrisiko’s identifiseer en die toepaslike owerhede ontbied,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
“Die buurtwag se werk wys ook hoe belangrik samewerking tussen inwoners, private veiligheidsmaatskappye en toegewyde wetstoepassingsbeamptes is. Wanneer hierdie rolspelers vinnig en doelgerig saamwerk, kan dit tot tasbare resultate lei.”
Die Oudtshoorn-buurtwag beplan om in die komende tyd verdere veiligheidsoudits by skole in die gemeenskap uit te voer. Die buurtwag wil ook soortgelyke oudits by plaaslike kerke doen om moontlike veiligheidsrisiko’s te identifiseer en praktiese aanbevelings te maak, aangesien kerke gereeld sagte teikens vir opportunistiese misdadigers bied.
Skole en kerke wat in ’n veiligheidsoudit belangstel, word uitgenooi om met AfriForum se Oudtshoorn-tak of -buurtwag in verbinding te tree. Deur risiko’s vroegtydig te identifiseer en toepaslike voorsorgmaatreëls in te stel, kan instellings hul personeel, leerders, lidmate en eiendom beter beskerm.
Die buurtwag se werk gedurende die maand wys wat bereik kan word wanneer inwoners waaksaam bly, inligting vinnig deel en verantwoordelik optree.
Inwoners word aangemoedig om enige verdagte bedrywighede onmiddellik by die toepaslike owerhede of plaaslike veiligheidsrolspelers aan te meld en hul bure daarvan bewus te maak.
Sluit vandag nog aan by die Oudtshoorn-tak, en help hulle om meer te doen. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za, of skakel vir Erasmus by 081 216 9602.



