|

Entrepreneurs se fisieke, emosionele en geestelike welstand in die kollig by AfriForum Sakenetwerk-geleentheid

Om ’n blink besigheidsidee te hê is maar net die begin van ’n entrepreneur se reis. Wanneer die reis egter die langpad tref, is die sake-eienaar se fisieke, emosionele én geestelike welstand  noodsaaklik om die uitdagings wat op die pad na sukses kom, te trotseer. Juis daarom het AfriForum Sakenetwerk se Noordelike Voorstede-tak in Kaapstad, tydens sy netwerkgeleentheid wat op 2 September in Durbanville gehou is, die kollig op die welstand van die entrepreneur laat val. 

AfriForum Sakenetwerk-lede tydens die netwerkgeleentheid

Deon de Jager, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, waarsku dat entrepreneurs telkens hul eie welstand afskeep in die gejaag na groei, sukses en volhoubaarheid. “Entrepreneurs spandeer dikwels soveel tyd en energie aan hul ondernemings dat hulle vergeet van die persoon wat die onderneming aan die gang moet hou. En vir ’n onderneming om gesond te wees, moet die entrepreneur ook fisiek, emosioneel en geestelik toegerus wees om die uitdagings van entrepreneurskap te kan hanteer.”

Francois Snyman, eienaar van BODY20 Majik Forest, het tydens die netwerkgeleentheid die fokus op fisieke welstand geplaas. Hy het entrepreneurs aangemoedig om te sorg vir die liggaam wat die besigheid moet dra en nie hul fisieke gesondheid as ’n luukse of iets vir “later” te beskou nie, maar as ’n belangrike belegging in hul vermoë om volhoubaar te funksioneer en te presteer.

Wanda Bam

Naomi Jordaan, stigter van Aspire Coaching, het vervolgens die aandag op die entrepreneur se denke gevestig. Met haar tema “Beskerm jou denke – die grootste bate van jou besigheid” het Jordaan gesels oor die invloed van die brein, emosies, die senuweestelsel en onderliggende gedragspatrone op die manier waarop mense uitdagings hanteer en besluite neem.

Die spreker, sanger, skrywer en radio- en televisieaanbieder, Wanda Bam, het op haar beurt gefokus op die belangrikheid van die geestelike dimensie van die lewe. Haar boodskap het die drie temas van die aand – liggaam, denke en gees – op ’n besondere wyse saamgebind en laat fokus op geloof, hoop, dankbaarheid en die keuses wat ’n mens maak te midde van die lewe se uitdagings.

Volgens De Jager is AfriForum Sakenetwerk ’n instelling wat sedert sy ontstaan ’n tuiste bied vir klein tot mediumsake-eienaars om te ontwikkel en bande te smee met mede-entrepreneurs. Hy sien egter uit na die volgende groeifase in dié netwerk se aanbod.

“Ons visie is om ’n dinamiese handelsplatform te skep waar sakeondernemings mekaar ontmoet, handel dryf, kennis deel en nuwe geleenthede ontsluit. Deur plaaslike ondernemings met mekaar te verbind, wil ons help om die gemeenskapsekonomie te versterk. Ons glo dat ons deur samewerking en vennootskappe saam sterker kan wees,” verduidelik hy.

Die netwerk streef ook daarna om entrepreneurs en sakeondernemings bymekaar te bring om nie slegs tydens netwerkgeleenthede kontak te maak nie, maar om langtermynverhoudings, samewerking en nuwe sakegeleenthede te ontwikkel.

“Ons wil hê mense moet nie net ’n geleentheid bywoon en dan huis toe gaan nie. Ons wil hê hulle moet deel word van ’n netwerk waarin mense mekaar leer ken, mekaar vertrou, sake met mekaar doen en mekaar help groei,” sê De Jager.

AfriForum Sakenetwerk se toekomstige geleenthede sal voortbou op dié doelwit om ’n sterk, aktiewe gemeenskap van entrepreneurs en onafhanklike ondernemings te ontwikkel.

Om deel te word van AfriForum Sakenetwerk, besoek www.afriforumsakenetwerk.co.za.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf