Brand by Paarl-hospitaal
| | |

AfriForum-buurtwag keer Paarl-hospitaal se ‘brandstigter’ aan

AfriForum se Paarl-buurtwag het ’n beduidende rol gespeel in die inhegtenisneming van ’n verdagte wat verbind word met die brand wat verlede week by die Paarl-hospitaal uitgebreek het. Vinnige optrede, die gebruik van tegnologie en samewerking tussen gemeenskapslede en wetstoepassers het tot die sukses gelei.

Die brand het op 27 Januarie ná 11:00 by die hospitaal ontstaan en het groot kommer veroorsaak weens die potensiële gevaar wat dit vir pasiënte, personeel en infrastruktuur inhou. Terwyl nood- en veiligheidsdienste die brand onder beheer gebring het, het lede van AfriForum se Paarl-buurtwag onmiddellik begin om die omliggende gebied te fynkam en inligting in te samel.

Rudi Spamers, ’n lid van die AfriForum-buurtwag, het ’n sleutelrol gespeel in die identifisering en opsporing van die verdagte. Deur kringtelevisiemateriaal in die gebied te moniteer en noukeurig te ontleed, kon die verdagte se bewegings gevolg word. Hierdie inligting het direk gelei tot die opsporing en suksesvolle arrestasie van die vermeende brandstigter, wat toe aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oorhandig is.

“Hierdie voorval wys hoe belangrik waaksaamheid, tegnologie en samewerking binne ons gemeenskappe is,” sê Marique van Dalen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland. “Danksy Rudi Spamers se vinnige optrede en doeltreffende gebruik van kringtelevisiemateriaal kon die verdagte betyds geïdentifiseer en vasgetrek word. Dit is ’n sterk voorbeeld van hoe gemeenskapsveiligheid werklik in praktyk werk.”

Die verdagte het reeds in die hof verskyn in verband met die voorval en die saak word tans verder ondersoek.

Die Paarl-buurtwag spreek hul opregte waardering uit teenoor die nood- en brandweerdienste, die SAPD en alle gemeenskapslede wat waaksaam gebly en verantwoordelik opgetree het.

Hierdie voorval beklemtoon weereens die kritieke rol van gemeenskapsveiligheid, die gebruik van kringtelevisie en samewerking in misdaadbekamping.

Raak vandag betrokke by jou naaste AfriForum-tak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf