AfriForum eis antwoorde oor waternood in snikwarm Upington binne 24 uur
Die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit het 24 uur om op AfriForum se vrae oor die waterkrisis wat inwoners van Upington en omliggende gebiede tans lamlê, te beantwoord. Indien geen bevredigende reaksie betyds ontvang word nie, sal AfriForum die saak na die Z.G. Mgcawu Distriksmunisipaliteit eskaleer. Dié eis volg nadat sommige woonbuurte se krane al vir minstens vier dae droog is, terwyl ander woonbuurte lae of wisselvallige waterdruk ervaar.
Met die wateronderbreking wat voortduur, is daar ook heelwat huishoudings wat geen toegang tot noodwaterpunte het nie. Hoewel watertenks of -punte in sekere gebiede waargeneem is, is hierdie alternatiewe watervoorsiening nie oral beskikbaar nie. AfriForum waarsku dat die gebrek aan toegang tot skoon water inwoners se gesondheid en basiese lewensomstandighede direk raak.
Intussen is die enigste kommunikasie aan die gemeenskap oor die wateronderbreking tot dusver, slegs via die munisipaliteit se Facebook-blad versprei, wat net ’n sekere groep inwoners bereik omdat nie almal op sosiale media is nie. Geen omvattende skriftelike kennisgewing met ’n duidelike tydlyn of volledige besonderhede oor die hersteltyd is aan alle inwoners gerig nie.
Luidens ’n dringende brief wat AfriForum vandag aan die Dawid Kruiper-munisipaliteit gestuur het, eis die organisasie antwoorde oor waar en wanneer alternatiewe water beskikbaar is; hoe inwoners sonder toegang tot enige watertenks of -punte dringend van water voorsien kan word; wat die presiese oorsaak van die wateronderbreking is; en wanneer normale watervoorsiening herstel sal word.
“Met maksimum temperature tussen 37 en 41 °C in Upington die afgelope week, is dit onaanvaarbaar dat die gemeenskap onder wateronderbrekings gebuk gaan. Dis is snikhete soos dié wanneer mense meer water gebruik as normaalweg, veral in hierdie gedeelte van die land. AfriForum doen dus ’n beroep op die munisipaliteit om die waterkrisis so spoedig moontlik vir die gemeenskap se onthalwe op te los,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.
Indien AfriForum nie teen môre (4 Februarie) bevredigende reaksie van die munisipaliteit op skrif ontvang nie, sal die organisasie versoek dat die distriksmunisipaliteit ingryp.



