AfriForum bevraagteken vertragings in ondersoek na skietlustige politikus
’n Maand sedert die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) met die gesigsidentifikasie van Thapelo Amad, ’n oudburgemeester van Johannesburg, begin het, is daar nog geen noemenswaardige vordering gemaak in die ondersoek na Amad se beweerde roekelose hantering van ’n vuurwapen nie. AfriForum dring in ’n skrywe daarop aan dat die SAPD duidelikheid verskaf oor die stand van die strafsaak teen dié politikus.
Die saak spruit voort uit ’n video wat in April vanjaar wyd op sosiale media versprei is. Amad, ’n burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsontwikkeling in Johannesburg, kan glo in die video gesien word hoe hy ’n vuurwapen in die openbaar afvuur. AfriForum het destyds ’n strafregtelike klagte by die SAPD ingedien weens beweerde oortredings van die Wet op die Beheer van Vuurwapens.
Luidens die SAPD se skrywes aan AfriForum op onderskeidelik 1 Junie en 22 Junie is ’n ondersoekbeampte aangewys, waarna die verdagte genader sou word vir gesigsidentifikasie. Sedertdien is geen verdere terugvoer ontvang nie, ondanks verskeie versoeke om opdaterings.
“Die reg moet vir almal ewe veel geld. Wanneer Jan Burger vermoedelik die Vuurwapenbeheerwet oortree, word daar vinnig opgetree. Dit is daarom onaanvaarbaar dat hierdie ondersoek voortsleep sonder enige sigbare vordering of verduideliking,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.
Die SAPD het self vroeër vanjaar sterk standpunt ingeneem teen die roekelose hantering van vuurwapens nadat ’n video van twee vroue wat met vuurwapens speel, op sosiale media versprei is. Die SAPD het destyds gewaarsku dat die roekelose gebruik van vuurwapens ’n ernstige gevaar vir die publiek inhou en inhegtenisnemings is kort daarna uitgevoer. AfriForum meen dieselfde beginsels moet konsekwent toegepas word, ongeag wie die verdagte is.
“Hierdie saak handel nie oor die identiteit van die individu nie, maar oor die konsekwentheid en geloofwaardigheid van die strafregstelsel. Wanneer die wet selektief toegepas word of ondersoeke onverklaarbaar sloer, ondermyn dit die publiek se vertroue in die strafregstelsel,” voeg Broodryk by.
AfriForum het die SAPD versoek om onder meer terugvoer te gee oor of Amad al ’n skriftelike verklaring afgelê het. AfriForum sal voortgaan om die saak te monitor en daarop aandring dat die SAPD sy plig sonder vrees of bevoordeling uitvoer.



