AfriForum versoek dringende insae in McKenzie se sokkerwêreldbeker-uitgawes
AfriForum versoek, kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA), gedetailleerde inligting oor Gayton McKenzie, minister van Sport, Kuns en Kultuur, se reis na die 2026-Sokkerwêreldbekertoernooi in Noord-Amerika. Die burgerregteorganisasie het vroeër vandag die aansoek aan die Departement van Sport, Kuns en Kultuur gerig.
Die PAIA-aansoek kom te midde van grootskaalse omstredenheid oor die onthulling dat die departement nagenoeg R31 miljoen vir dié reis opgedok het. Uit beskikbare inligting blyk dit dat dié reusebedrag ingespan is vir die internasionale reiskoste van ’n departementele afvaardiging bestaande uit 18 mense, ’n legendes-vertoonwedstryd, gasvryheid-suites, wedstrydkaartjies en ondersteunersgeleenthede met 30 kunstenaars.
Die mediaverklaring wat die minister Sondag oor die besteding uitgereik het, bevat geen stawende dokumentasie oor die buitensporige bedrae wat gelys is nie. AfriForum het gevolglik versoek om die volledige fakture en ouditverslae vir hierdie reis, asook ander relevante finansiële dokumente, te sien.
Volgens Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, klop die minister se syfers nie. “Daar is geen manier dat ’n reis van hierdie aard soveel kon gekos het nie, tensy fondse ernstig wanbestuur is of op luukshede uitgegee is. Daarom verdien die publiek duidelikheid,” verduidelik Van Zyl.
“In plaas daarvan om die R31 miljoen aan te wend op sportbeurse, die opgradering van fasiliteite by minderbevoorregte skole of selfs om die nasionale hokkiespan – wat ’n ernstige tekort aan finansiële steun het – te ondersteun, blyk dit dat dié reusebedrag bestee is aan duur hotelle en maaltye by deftige restaurante. Skandelik,” sluit Van Zyl af.



