AfriForum Teater klink ’n glasie op vier Naledi-nominasies
Die nominasies vir die Naledi-teatertoekennings vir 2026 is bekendgemaak en AfriForum Teater is vir vier van dié toekennings benoem. Die benoemings erken die teater se tegniese uitnemendheid, kreatiewe samewerking en artistieke talent.
AfriForum Teater se eie tegniese operateur, Pieter-Louis van Twisk, is wéér genomineer vir Beste Klankontwerp vir die gewilde musiekblyspel Semi-Soet – die musiekblyspel. Hierdie benoeming is nóg ’n hoogtepunt in ’n reeds indrukwekkende Naledi-reis. Van Twisk het in 2022 die Naledi-toekenning vir Beste Klankontwerp gewen vir Die Gelofte en was ook voorheen genomineer vir sy werk aan Die Kaplyn en Aspoestertjie. Sy konsekwente erkenning onderstreep die belangrike rol wat tegniese vernuf in die sukses van grootskaalse teaterproduksies speel. Phillip Schnetler en Zöricke Snyman is ook genomineer vir hul rolle in Semi-Soet – die musiekblyspel.
Die kinderproduksie Woordedief, deur Margit Meyer-Rodenbeck in samewerking met AfriForum Teater, is benoem vir Beste Produksie vir Kinders en Jong Gehore. Dié stuk het gehore landswyd bekoor met sy verbeeldingryke aanbieding en sterk opvoedkundige waarde.
Die Naledi-toekennings word jaarliks toegeken om uitnemendheid in Suid-Afrikaanse teater te erken en word as een van die bedryf se mees gesogte eerbewyse beskou.
“Hierdie nominasies bevestig die hoë standaard van produksies wat by AfriForum Teater aangebied word,” sê Marné Jooste, bemarking-en-kommunkasiebeampte by AfriForum Teater. “Ons is ongelooflik trots op elke kunstenaar en spanlid wat tot hierdie nominasies bygedra het.”
AfriForum Teater bly verbind daartoe om gehore te verras met produksies van gehalte en om ’n platform te bied waar Suid-Afrikaanse talent kan groei en floreer.



