Blitsige buurtwag blus brand in Struisbaai
Die AfriForum-buurtwag in Struisbaai het tydens hul patrollie op 21 Februarie ’n brand op die hoek van Malvernstraat en Kusweg teëgekom. Die buurtwag het onmiddellik hul brandbestrydingstoerusting ingespan en die distriksbrandweer in kennis gestel van die brand. Die brand is binne enkele minute onder bedwang gebring.
Danksy die vinnige optrede van die AfriForum-buurtwag en samewerking met ander rolspelers soos Top Coastal Security en die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) was daar geen beserings of ernstige skade as gevolg van hierdie brand nie.
“Ons bedank almal wat gehelp het om die brand te blus,” sê Jaco Marais, ondervoorsitter van AfriForum se Kaap Agulhas-tak, en leier van die buurtwag se operasie-span. “Ons is hier om te bly, en ons sal voortgaan om te verseker dat Struisbaai ’n veilige omgewing is en bly.”
Hoewel die buurtwag eers laat in 2024 gestig is, het dié buurtwag reeds verskeie suksesse behaal. Daar is tans 13 aktiewe buurtwaglede wat sedert November verlede jaar al meer as 80 patrollies gery het en ’n totaal van 2 400 km al afgelê het.
Indien jy wil betrokke raak by hierdie buurtwag en sodoende help om jou omgewing te beveilig kontak vir Marthinus Erasmus by marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel hom by 081 216 9602.