| | |

AfriForum nader hof om Graaff-Reinet-naamsverandering te hersien

Klankgrepe: Alana Bailey (Afrikaans)
Klankgrepe: Alana Bailey (Engels)

AfriForum nader die Hooggeregshof in Pretoria om die besluit van Gayton Mackenzie, die minister van Sport, Kuns en Kultuur, om Graaff-Reinet se naam te verander, te hersien. Dit volg nadat die minister op 6 Februarie vanjaar in die Staatskoerant aangekondig het dat 21 plekname in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal verander, insluitend dié van Graaff-Reinet.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is die rede vir die aksie die besondere geskiedenis van die dorp en die rol wat dit in die land, maar in die besonder Afrikaners se geskiedenis gespeel het. Nadat die naamsverandering aangekondig is, het AfriForum die minister met ’n prokureursbrief genader om te vra dat die besluit hersien word. Ná byna vier maande is geen reaksie nog op die skrywe ontvang nie. AfriForum is dus genoodsaak om die hof se hulp in te roep namens die inwoners en almal vir wie die naam Graaff-Reinet van besondere kulturele en historiese betekenis is.

“Peilings wat onderneem is, het bevind dat die meeste inwoners van die dorp teen die naamsverandering gekant is. Sedert die naamsverandering deur die minister aangekondig is, is verskeie petisies en ’n protesaksie daarteen ook wyd ondersteun. Inwoners assosieer die naam van die dorp met hulle geskiedenis en is trots daarop. Hulle is verder bekommerd oor die koste van die verandering, terwyl die dorp se infrastruktuur dringend aandag benodig. ’n Nuwe naam sal die toerismebedryf wat van enorme belang vir die ekonomie van die streek is, knou. Verder het botsings op onder meer sosiale media bewys dat die verandering nie eenheid en wedersydse respek onder die inwoners bevorder nie, maar juis die gemeenskap ernstig polariseer,” sê Bailey.

AfriForum is ook oortuig daarvan dat die proses wat met die naamsverandering gevolg is, ongrondwetlik is. Dié opinie word gestaaf deur die feit dat ’n hersiene weergawe van die Wysigingswetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Geografiese Nameraad onlangs vir openbare kommentaar beskikbaar was.

Bailey is van die mening dat naamsveranderinge in die land ’n nuttige manier geword het om gemeenskappe se aandag af te lei van belangrike kwessies soos die gebrek aan dienslewering deur owerhede, korrupsie, wanbestuur en die onvermoë om aan verkiesingsbeloftes gestand te doen. “Prosesse word dikwels deurgestoomroller om die indruk te skep dat owerhede in beheer is en kragdadig optree, terwyl die mees weerloses in die gemeenskap in die steek gelaat word en die inkomste van die res weens infrastruktuurprobleme bedreig word. Waar gemeenskappe eerder saam na oplossings vir toekomstige oorlewing moet soek, word hulle dermate met opswepery oor dorpsname gepolariseer dat geen vordering gemaak word nie. Wen-wen oplossings kan gevind word om die geskiedenis van alle gemeenskappe in te sluit sonder om die een ten koste van die ander te verhef.”

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners