Rassediskriminasie
|

AfriForum eis deursigtigheid van Jhb-advokaatvereniging oor rasdiskriminerende praktyke

Klankgreep: Ernst van Zyl (Afrikaans)
Klankgreep: Ernst van Zyl (Engels)

AfriForum het vandag ’n brief aan die Johannesburgse Vereniging van Advokate (JSA) gestuur om meer inligting te bekom oor beskuldigings van rassediskriminasie wat deur die vereniging beoefen word. Dit kom nadat die vereniging advokaat Mark Oppenheimer daarvan beskuldig het dat hy “misinformasie” versprei het omdat Oppenheimer beweer het dat hul toelatingsproses hoogs rasgebonde en diskriminerend is.

AfriForum neem die beskuldigings baie ernstig op, veral gegewe die implikasies wat dit inhou vir die openbare vertroue in die regsberoep in Suid-Afrika. Daarom het AfriForum versoek dat die JSA die volgende inligting vanaf 2016 verskaf:

  • Die aantal jaarlikse aansoekers vir pupilskap by die vereniging gedurende elke jaar in hierdie tydperk.
  • Die aantal aansoekers wat tot die pupilskapprogram toegelaat is gedurende elke jaar in hierdie tydperk.
  • Die rasse- en geslagsverdeling van die aansoekers in elke jaar, vir sover hierdie inligting aangeteken is.
  • Die ras en geslag van aansoekers wat tot die pupilskapprogram toegelaat is in elke jaar.
  • Al die metode(s) wat gebruik is om aansoekers se rasse te bepaal, aan te teken of te klassifiseer.
  • Die beleide, kriteria, riglyne, puntetellingstelsels of ander leidende dokumente wat gedurende hierdie tydperk gebruik is om toelating tot pupilskap te bepaal.
  • Enige dokumente wat toon of ras in ag geneem is in pupilskaptoelatings, asook besonderhede oor hoe daardie standaard toegepas is.
  • Enige dokumente wat die gebruik, oorweging of aanbeveling van rasteikens, kwotas, beperkings, voorkeure, gewigstoekenning of ander rasgebaseerde kriteria rakende pupilskaptoelatings weerspieël.

Volgens Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, kan die JSA nie bloot agter beskuldigings van “misinformasie” wegkruip as dit nie bewyse kan lewer dat Oppenheimer se bewerings vals is nie. “Dit is in die belang van die publiek en vertroue in ’n regstelsel gebaseer op meritokrasie, eerder as rassisme, dat hierdie inligting openbaar gemaak word,” sê Van Zyl.

“As die feite aan die kant van die JSA is, sal volle deursigtigheid rakende hierdie sake slegs hul posisie versterk. ’n Verwerping van hierdie billike versoek om duidelikheid sal egter nog ernstiger vrae vir die vereniging laat ontstaan,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik