Govan Mbeki-munisipaliteit se “waterkruik” loop leeg, inwoners ly
AfriForum het vandag (27 Februarie) ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit gerig om inligting rakende die bepalings en voorwaardes van die waterverskaffingooreenkoms tussen dié munisipaliteit en Rand Water te bekom. Dié aansoek is daarop gemik om die grondwetlikheid van ’n skynbaar nuwe verskaffingsmodel te bepaal.
Tydens Woensdag se munisipale raadsvergadering het dit aan die lig gekom dat Rand Water, ingevolge ’n skynbaar twyfelagtige ooreenkoms met die munisipaliteit, slegs 2,4 megaliter water per dag aan die munisipaliteit moet voorsien. Indien die minimum kerf van 25 liter water per inwoner per dag as maatstaf gebruik word, voldoen die gelewerde 2,4 megaliter aan minder as ’n kwart van inwoners se basiese waterbehoeftes van sowat 10 megaliter per dag.
Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, gaan inwoners in dié munisipaliteit telkens gebuk onder watertekorte en is die PAIA-aansoek noodsaaklik vir deursigtigheid en om die munisipaliteit aanspreeklik te hou.
Krane wat leegloop, is niks nuut vir inwoners in dié munisipaliteit se dorpe nie en dorpe soos Bethal loop veral erg deur. Dit het AfriForum, in samewerking met plaaslike boere, genoodsaak om noodmaatreëls in te stel om inwoners, skole en tehuise ten tyde van wateronderbrekings te ondersteun. Meer as 400 000 liter water is reeds sedert die begin van die jaar in Bethal alleen versprei. Wateronderbrekings hier het in 2024 ’n hoogtepunt bereik en in daardie jaar het AfriForum en die boere meer as 2,5 miljoen liter kosteloos aan inwoners beskikbaar gestel.
Bekker hou vol dat die munisipaliteit ondeursigtig is oor die redes vir die gereelde onderbrekings en tekorte. Dié benadering het reeds inwoners se vertroue in die munisipaliteit se bestuur van die probleem ’n ernstige knou toegedien.
Die munisipaliteit pak telkens die skuld vir die probleme op Rand Water en voer onder meer aan dat watervoorsiening aan die munisipaliteit laer is as die vraag weens Gauteng se hoë verbruik; en dat kragprobleme of die instandhouding van waterinfrastruktuur watervoorsiening belemmer. Erkenning van die munisipaliteit se aandadigheid aan die probleem weens swak bestuur, vervalle infrastruktuur en beweerde kwaadwillige ooreenkomste met Rand Water ontbreek egter geheel en al.
Bekker bevraagteken die redes wat vir die wateronderbrekings aangevoer word – veral omdat die krisis, wat in 2024 ontstaan het en in 2025 so te sê in die niet verdwyn het nou weer in 2026 kop uitsteek. Hy waarsku dat ’n sluier van geheimhouding hang oor die werklike redes vir die hernieude probleme in die munisipaliteit.
Ontevrede inwoners van die munisipaliteit het Woensdag die munisipale raadsvergadering bygewoon om protes teen swak watervoorsiening te lewer. Hulle is oorspronklik toegang tot die openbare vergadering geweier, maar is later toegang gegun. Protesakies het intussen nou ook in andere dorpe in dié munisipaliteit plaasgevind en beklemtoon inwoners se misnoeë met krane wat hier leegloop.
“Indien die munisipaliteit om die een of ander rede te min water ontvang, moet dit vasgestel word. Dit is onaanvaarbaar dat inwoners gedwing word om elke dag met minder as die voorgeskrewe minimum hoeveelheid water oor die weg te kom,” sê Bekker. “Dit wil voorkom asof raadslede en die publiek om die bos gelei word oor die verskaffingsmodel wat kragtens ’n ooreenkoms tussen die munisipaliteit en Rand Water geld en ons hoop om nou deur ons PAIA-aansoek te bepaal wat die ware toedrag van sake is.”
“Die Govan Mbeki-munisipaliteit beskou duidelik die beskikbaarheid van water soos die Bybelse weduwee se kruik – hulle wéét daar is te min, maar glo dat ’n wonderwerk sal plaasvind en almal sal water kry,” sluit Bekker af.
Die Hooggeregshof in Pretoria het in 2023 in AfriForum se guns beslis dat Rand Water nie waterdruk na die Govan Mbeki-, Victor Khanye, en Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit mag verminder nie. Dié maatreël was toegepas weens die munisipaliteite se hoë vlakke skuld aan die grootmaatwaterverskaffer. Aangesien die algehele opskorting van waterverskaffing ongrondwetlik is, kon Rand Water nie dié ekstreme straf implementeer nie, maar drukvermindering het volgens AfriForum op talle plekke in die munisipaliteite wel in effek daarop neergekom.



