|

Weerhouding van munisipale toelaes bevestig wydverspreide bestuursmislukkings – AfriForum

Klankgreep: Morné Mostert (Afrikaans)
Klankgreep: Morné Mostert (Engels)

Die Nasionale Tesourie se besluit om R13,5 miljard se billike-aandeel-toelae van 69 munisipaliteite vir Julie tydelik te weerhou, is volgens AfriForum ’n bewys van die omvang van finansiële wanbestuur en nie-nakoming op plaaslikeregeringsvlak. AfriForum waarsku egter dat die regering se uiteindelike korrektiewe optrede teen munisipaliteite wat herhaaldelik versuim om hul wetlike verantwoordelikhede na te kom, slegs doeltreffend sal wees as dit gepaard gaan met betekenisvolle hervorming.

Volgens Morné Mostert, bestuurder vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum, toon die Tesourie met hul optrede dat die betrokke munisipaliteite nie aan die fundamentele finansiële bestuursvereistes voldoen het nie. “Gemeenskappe leef al jare lank met die gevolge van hierdie mislukkings wat onder meer sigbaar is in verswakkende infrastruktuur, gebrekkige water- en elektrisiteitsdienste, rioolstortings en swak vullisverwydering,” sê Mostert.

Hy benadruk egter dat die weerhouding van die toelaag neerkom op ’n dubbele straf vir inwoners wat eerstens die las van swak munisipale dienslewering moet verdra en nou verder gaan ly weens die weerhouding van die toelaag. “Hoewel fiskale dissipline noodsaaklik is, mag gemeenskappe nie die gevolge van munisipale rade en amptenare se swak bestuur dra nie,” verduidelik hy.

“Die weerhouding van toelaes belig bloot die ‘simptome’ van munisipale mislukkings, nie die onderliggende redes daarvoor nie. Die werklike probleme lê in swak bestuur, swak toesig en ’n volgehoue ​​gebrek aan verantwoordbaarheid. Tensy hierdie kwessies getakel word, sál munisipaliteite bloot van die een finansiële krisis na die volgende beweeg.”

AfriForum hou vol dat die Tesourie nie munisipaliteite eiehandig sal kan regruk nie. Die organisasie doen daarom ’n beroep op die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta) om in samewerking met provinsiale regerings die beskikbare grondwetlike meganismes vir intervensie in te span waar munisipaliteite herhaaldelik versuim om hul verantwoordelikhede na te kom. Gevalle waar munisipaliteite ook misluk om aan die herstelmaatreëls te voldoen, behoort strenger intervensies kragtens artikel 139 van die Grondwet ingestel te word.

Mostert voer voorts aan dat dissiplinêre stappe – of waar nodig siviele of kriminele vervolging – ingestel moet word teen senior munisipale amptenare wat herhaaldelik versuim om hul statutêre pligte na te kom, die vereistes van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur verontagsaam of bydra tot finansiële ineenstorting.

“Die era van munisipale mislukking sonder gevolge, moet end kry. Die regering het nou erken dat daar ’n ernstige krisis in munisipaliteite woed. Beslissende optrede teen verantwoordelike individue én die herstel van munisipaliteite tot instellings wat ten volle daartoe in staat is om basiese dienste te lewer aan die gemeenskappe wat hulle veronderstel is om te dien, moet nou dringend volg. Gemeenskappe verdien funksionele munisipaliteite – nie eindelose herstelplanne wat geen betekenisvolle verandering meebring nie,” sluit Mostert af.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik