|

AfriForum skenk opgeleide polisiehond aan SAPD in Wes-Kaap te midde van tekort

AfriForum het vandag ’n opgeleide polisiehond genaamd Bruno (Belgiese Malinois) aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Wes-Kaap geskenk in ’n poging om die kritieke tekort aan hulpbronne by die provinsie se honde-eenheid aan te spreek.

Bruno is die eerste ten volle opgeleide polisiehond wat AfriForum aan die SAPD se honde-eenheid skenk en Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, sê hy sal beslis nie die laaste wees nie.

“Die skenking van ’n opgeleide hond volg op groeiende kommer oor die gebrek aan operasionele polisiehonde. Alhoewel die SAPD 95 honde vir die 2023/2024-boekjaar en tot op hede 23 honde vir die 2024/2025-boekjaar aangekoop het, hou die tempo waarteen hierdie honde vervang word, nie tred met die tempo waarteen hulle aftree nie,” sê Broodryk.

Volgens Firoz Cachalia, waarnemende minister van Polisie, word die tekort aan polisiehonde onder meer veroorsaak deur beserings aan diens en verouderende honde met akute mediese toestande. Die onderbreking van die SAPD se teelprogram, asook die uitbreking van die Covid-19-pandemie, wat opleidingspogings tot stilstand gebring het, het die agterstand verder vererger.

“Hierdie tekort belemmer misdaadbekamping, veral in die opsporing van dwelms en soek-en-reddingsoperasies, wat alles sleutelfunksies is in gebiede wat geteister word deur voortdurende bendegeweld,” sê Broodryk.

AfriForum benadruk dat doeltreffende polisiëring voldoende hulpbronne vereis en dat die burgerlike samelewing ’n rol het om te speel om wetstoepassing te ondersteun waar kapasiteitsbeperkings bestaan. Hierdie skenking vorm deel van AfriForum se voortgesette pogings om gemeenskapsveiligheid te versterk en die SAPD te ondersteun in sy mandaat om misdaad te bestry.

Jacques Broodryk (Afrikaans)

“Praktiese samewerking tussen gemeenskappe en die polisie is noodsaaklik om veiligheid op grondvlak te verbeter. Deur hierdie polisiehond te skenk, beoog AfriForum om betekenisvol by te dra tot die verbetering van die operasionele doeltreffendheid van die SAPD in die Wes-Kaap,” sluit Broodryk af.

AfriForum is van voorneme om in die toekoms nog opgeleide polisiehonde aan die SAPD te skenk sodat hond-eenhede oor die land heen genoegsame kapasiteit het om misdaad te bekamp. Die burgerregteorganisasie is daartoe verbind om inisiatiewe van stapel te stuur wat die veiligheid en welstand van gemeenskappe bevorder, daarom beplan AfriForum om ’n fonds op die been te bring wat die opleiding en oorhandiging van polisiehonde moontlik maak.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid