|

Nuuskommentaar: Vreemdelingehaat wys op veel dieper probleme

Deur Zel-Marí Gelderblom, koördineerder van inhoud en mediaverhoudings by AfriForum

Die jongste xenofobiese spanning in Durban en ander dele van Suid-Afrika het weereens gewys hoe broos stabiliteit in die land is. Betogings wat op buitelandse burgers gemik was, het daartoe gelei dat owerhede honderde mense na veilige gebiede moes verskuif, terwyl die polisie probeer het om orde te herstel. Hierdie gebeure plaas die kollig op Suid-Afrika se aanhoudende uitdagings rakende immigrasie, ekonomiese druk en politieke retoriek.

Soos met vorige uitbarstings van xenofobiese geweld, blyk dit dat die onderliggende oorsake steeds nie doeltreffend getakel word nie. Frustrasie oor werkloosheid, swak dienslewering en ekonomiese druk word dikwels op buitelanders geprojekteer eerder as op die strukturele probleme wat die krisisse veroorsaak.

Die werklike oorsake van die krisis lê by misdaad, korrupsie, swak dienslewering, stadige ekonomiese groei, onvoldoende grensbeheer en jare lange verval van staatsinstellings.

Die geweld was nie tot een gebied beperk nie. In die Suid-Kaap het vermoedelike xenofobiese aanvalle die lewens van verskeie buitelandse burgers geëis, terwyl die polisie bykomende magte moes ontplooi om verdere onrus te voorkom.

President Cyril Ramaphosa en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het die geweld veroordeel en beklemtoon dat niemand die reg in eie hande mag neem nie. Terselfdertyd het die regering aangedui dat grensbeheer en optrede teen ongedokumenteerde immigrasie verskerp sal word.

Die omvang van die krisis is verder beklemtoon deur meer as 1 600 Malawiese burgers wat onlangs in Durban skuiling gesoek het, terwyl hulle op vrywillige repatriasie gewag het. Kort daarna het duisende buitelandse burgers Suid-Afrika verlaat nadat anti-immigrasiegroepe 30 Junie as sperdatum gestel het vir ongedokumenteerde immigrante om die land te verlaat.

Hoewel die meeste betogings vreedsaam verloop het, het sporadiese geweld, plundering en intimidasie voorgekom. Meer as 900 mense is landwyd in hegtenis geneem tydens dié optogte.

Intussen het menseregteorganisasies gewaarsku dat honderde ontheemde gesinne hulself in tydelike skuilings bevind waar toegang tot water, sanitasie en veiligheid beperk is. Hulle doen ’n beroep op die regering om die regte en waardigheid van alle mense in Suid-Afrika te beskerm, ongeag hul nasionaliteit.

AfriForum is van mening dat alle vorme van rassisme, vreemdelingehaat en geweld onvoorwaardelik veroordeel moet word. Die organisasie waarsku dat buitelanders nie as sondebokke vir Suid-Afrika se groter sosio-ekonomiese probleme gebruik moet word nie. Volgens AfriForum lê die werklike oorsake van die krisis by misdaad, korrupsie, swak dienslewering, stadige ekonomiese groei, onvoldoende grensbeheer en jare lange verval van staatsinstellings. Solank hierdie kernprobleme nie getakel word nie, sál spanning en konflik waarskynlik voortduur.

Die immigrasiedebat bly egter kompleks. Terwyl baie Suid-Afrikaners meen dat ongedokumenteerde immigrasie druk op werkgeleenthede en openbare dienste plaas, wys ander daarop dat baie migrante wettig in die land woon, belasting betaal en ’n betekenisvolle bydrae tot die ekonomie lewer. Daarby vlug talle mense uit hul lande van herkoms weens konflik, politieke onstabiliteit, armoede en voedselonsekerheid.

Te midde van die spanning het Zoeloekoning Misuzulu kaZwelithini ’n beroep op kalmte gedoen en gewaarsku dat geweld teen buitelanders ernstige gevolge vir Suid-Afrikaners in die buiteland kan inhou. Intussen gaan die deportasie van ongedokumenteerde immigrante voort, met die Grensbestuursowerheid wat steeds persone na hul lande van herkoms terugstuur.

Die jongste oplewing in xenofobiese spanning bevestig dat Suid-Afrika nie hierdie uitdaging met korttermynreaksies alleen sal oplos nie. Benewens doeltreffende wetstoepassing en beter grensbestuur verg die situasie volhoubare ekonomiese groei, verantwoordbare regering, beter dienslewering en politieke leierskap wat gemeenskappe verenig eerder as verdeel. Slegs deur die onderliggende oorsake van ontevredenheid te pak, kan Suid-Afrika langtermynstabiliteit en sosiale samehorigheid bevorder.

Soortgelyke plasings

Veiligheid