Vryburg nou skoner, netjieser danksy AfriForum-tak
Die AfriForum-tak in Vryburg het gedurende Maart hard gewerk om Vryburg ’n skoner en netjieser dorp vir alle inwoners te maak. Die tak het meer as 1.5 hektaar gras in die dorp gesny.
Die tak het by minstens vier leë erwe in Sablestraat, Springbok- en Blesbokweg gras gesny en ook ’n groot area gras langs Sablestraat, wat deur voetgangers gebruik word, gesny.
Daar is ook weer gras gesny by die konsentrasiekampbegraafplaas en die plaaslike parkie. Die parkie is ’n gewilde speelplek vir die kinders in die area en daarom is dit belangrik dat dié parkie skoon en netjies moet wees.
“Kinders moet ’n veilige, skoon omgewing hê waar hulle kan speel en juis daarom maak die Vryburg-tak maandeliks seker dat die gras netjies gesny is en vullis opgetel is,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
Nel voeg by dat die tak se betrokkenheid by die konsentrasiekampbegraafplaas ook ten doel het om erfenis te help bewaar. “Die tak is al vir meer as vyf jaar daarvoor verantwoordelik om die park en begraafplaas te onderhou. Die tak maak ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap en wil graag die gemeenskap aanmoedig om hande te vat en saam te werk aan projekte soos hierdie,” sluit Nel af.
Raak vandag nog by AfriForum se strukture betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig. Klik hier vir meer inligting.



