Voortbestaan van Henk Joubert-natuurreservaat ernstig in gedrang, waarsku AfriForum
AfriForum het op 14 April ’n dringende skrywe aan die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit gerig oor die toestand en voortbestaan van die Henk Joubert-natuurreservaat buite Delareyville. Die organisasie vra onder meer dat die munisipaliteit ’n samewerkingsooreenkoms met AfriForum aangaan ten bate van die behoud van die reservaat.
Die afgelope twee jaar het AfriForum verskeie briewe aan die munisipaliteit gestuur oor die toestand van die reservaat. Die munisipaliteit pas geen bestuur toe nie, onwetige stropery vind gereeld in die reservaat plaas en die diere steek gereeld paaie oor wat al verskeie ongelukke veroorsaak het. AfriForum het ook al ’n memorandum van verstandhouding aan die munisipaliteit aangebied om met die instandhouding van die reservaat te help.
Tot op hede, het AfriForum nog geen terugvoer van die munisipaliteit ontvang nie. Die organisasie het ook die departement van Landbou, Bosbou en Visserye gevra om ’n beroep op die munisipaliteit te doen om aandag aan die toestand van die reservaat te gee. Die Departement het ’n skrywe aan die Tswaing-munisipaliteit gerig, maar daar is weereens geen terugvoer van die munisipaliteit ontvang nie en die saak is daar gelaat.
In AfriForum se jongste skrywe word daar versoek dat die munisipaliteit die toestand van die reservaat dringend moet opskerp. Met die naderende winter bestaan die kans weer dat daar nie genoeg kos vir al die diere gaan wees nie, omdat die aantal wild al lankal die drakrag van die reservaat oorskry het. Daar is ook geen vorm van vars water beskikbaar vir diere in droë seisoene nie. AfriForum eis die munisipaliteit om die memorandum te onderteken sodat die organisasie met die munisipaliteit hande kan vat en die natuurreservaat weer op standaard te kry. AfriForum versoek ook verder dat die munisipaliteit vars water aan die diere moet voorsien en hul verantwoordelikhede nakom om die diere in die reservaat te beskerm.
AfriForum gaan ook weer ’n skrywe aan die Departement rig om dringend by die reservaat in te gryp om te verseker dat reservate soos die Henk Joubert-natuurreservaat vir verskeie generasies nog behoue kan bly.
“Die munisipaliteit kom eenvoudig nie sy pligte na om na die reservaat om te sien nie. AfriForum veg al vir meer as twee jaar om ’n memorandum te onderteken, wat die organisasie die geleentheid sal gee om self by die reservaat in te gryp. Die diere in die reservaat word aan hul eie lot oorgelaat en geen poging word aangewend om die reservaat op standaard te kry nie. Ons kan eenvoudig nie meer terugsit en hierdie agteruitgang aanskou nie; dit is tyd dat die munisipaiteit verantwoordelikheid aanvaar vir hul pligte,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
AfriForum het ’n aanlyn petisie waar ondersteuners hul stem kan laat hoor en donasies maak om te help om die reservaat op standaard te kry. Klik hier om die petisie te onderteken.
Raak vandag nog by AfriForum se strukture betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: Klik hier vir meer inligting.



