|

Veiliger paaie vir Laerskool Westwood danksy Boksburg-tak se verfwerk

Die AfriForum-tak in Boksburg het verlede week ’n praktiese bydrae tot die padveiligheid om Laerskool Westwood gemaak deur verskeie padmerke op en om die skoolterrein te verf. Die projek het daarop gefokus om die sigbaarheid van verkeerstekens, waaronder stopstrate en voetoorgange, te verbeter. Sowat agt liter verf is gebruik om die projek te voltooi en te verseker dat hierdie belangrike padmerke weer vir motoriste en voetgangers sigbaar is.

Duidelike padmerke en verkeerstekens speel ’n belangrike rol in die beskerming van leerders, ouers en personeel. Paaie om skole is baie besig, met kinders wat gereeld paaie oorsteek en voertuie wat in en uit die terrein beweeg. Wanneer padmerke vervaag, kan dit motoriste se vermoë om betyds te reageer beïnvloed en die risiko van ongelukke verhoog.

“Kinders se veiligheid moet altyd ’n prioriteit wees, veral in die omgewing waar hulle elke dag leer en speel. Ons glo dat gemeenskapsveiligheid nie net oor groot projekte en ingrypende aksies gaan nie, maar ook oor die klein, praktiese dinge wat ’n tasbare verskil in mense se lewens maak. Deur hierdie padmerke oor te verf, help ons om ’n veiliger omgewing vir die leerders, ouers en personeel van Laerskool Westwood te skep,” sê Dillen Mans, voorsitter van die AfriForum Boksburg-tak.

Die AfriForum Boksburg-tak benadruk dat veilige gemeenskappe deur samewerking, gedeelde verantwoordelikheid en volgehoue betrokkenheid gebou word. Die tak sal voortgaan om praktiese gemeenskapsprojekte aan te pak wat plaaslike inwoners se veiligheid en lewensgehalte verbeter.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf