|

Cornelis Legemaat: ’n Blik op toekoms is dié entrepreneur se inspirasie

Cornelis Legemaat, ’n top 10-finalis in AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar vir 2026, het op skool gedroom daarvan om ’n boer word, maar rekeningkunde het sy verbeelding aangegryp en hom op sy reis na sy eie onderneming, LBL Finance, gesit.

“Ek het tydens my klerkskap al geweet ek wil eendag my eie onderneming hê. Ek het egter ook besef ek sal eers ondervinding moet opdoen voor ek daardie stap doen. Ondernemings worstel met hul eie uitdagings en ek wou nie net die syfers verstaan nie, maar ook die besigheid agter die syfers,” vertel Legemaat.

Volgens Legemaat is rekeningkunde-firmas geneig om te fokus op wat reeds gebeur het. “Ondernemings het iemand nodig wat hulle kan help om te beplan vir dit wat voorlê. Dit was die begin van my idee. Ek wou ’n onderneming bou wat verder kyk as bloot nakoming en die optrek van verslae.”

So het Legemaat in 2019 saam met sy sibbe, Willeke en Coleen, LBL Finance op die been gebring. Hulle was net goed op dreef toe die Covid-19-pandemie die onderneming se handrem behoorlik opgetrek het.

“Ons het die onderneming met sekere verwagtinge begin en Covid het oornag alles verander. Destyds het ons gedink dit is ’n groot terugslag, maar terugskouend was dit eintlik ’n seën. Die onderneming moes stadiger groei en dit het ons tyd gegee om ons stelsels, prosesse en aanbod behoorlik reg te kry voor ons ’n vinnige groeifase binnegegaan het,” onthou Legemaat.

LBL het die afgelope sewe jaar reeds verskeie ondernemings gehelp om sin te maak van die syfers in hul verslae en sodoende beter vir die toekoms te beplan. Die onderneming is geskoei op persoonlike en gereelde kontak met kliënte wat sterk vertroue tussen LBL en sy kliënte bou.

Legemaat sê hy het aanvanklik die fout gemaak om te veel self te probeer doen en dat dit verhoed het dat LBL kon groei soos hy graag sou wou hê. ’n Ander fout waaruit hy moes leer is om nie genoeg aandag aan bemarking te gee nie. Voorts glo hy dat oop en eerlike kommunikasie die geheim is tot die bou van ’n sterk span binne ’n onderneming.

“Die waarde van goeie stelsels en prosedures kan nie onderskat word nie. Dokumenteer alles, want mense kan verander, maar wat gedokumenteer is bly behoue vir ’n volgende persoon. Ek dink ook entrepreneurs moet waak teen ’n suksesvolle onderneming wat ten koste van jou gesin gebou word,” sluit Legemaat af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf