Wes-Kaapse hoërskoolleerders kook by Dink of Sink-uitdunne



AfriForum se Dink of Sink-span het op 8 Mei die tweede van ses provinsiale uitdunrondtes vir hoërskooldebatteerders aangebied. Dié uitdunronde het by DF Akademie in die Wes-Kaap plaasgevind. Die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie vir hoëskoolleerders het belowende jong debatteerders die geleentheid gegee om hul vaardighede op die proef te stel.
Die doel van die kompetisie is om Afrikaanse debatkuns op laerskool-, hoërskool- en universiteitsvlak te bevorder, terwyl dit ook ’n noodsaaklike vaardigheid aanleer wat deelnemers in hul toekomstige beroepslewe sal bevoordeel.
Altesaam 159 leerders van sestien hoërskole in die Wes-Kaap het aan dié kompetisie deelgeneem. Die deelnemende skole was DF Akademie, Hoërskool Stellenberg, Hoër Meisieskool Paarl, Hoër Meisieskool La Rochelle, Hoërskool Parel Vallei, Hoërskool Jan van Riebeeck, Hoërskool Swartland, Hoërskool Langenhoven, Worcester Gimnasium, Paul Roos Gimnasium, Hoër Meisieskool Bloemhof, Hoërskool Paarl Gimnasium, Hoërskool Durbanville, Parow Hoërskool, Hoërskool Stellenbosch en Langenhoven Gimnasium. Gedurende die dag het 53 spanne elk drie debatte gevoer oor verskeie aktuele onderwerpe waarvan hulle kennis behoort te dra.
“Die leerders het hul take met groot vaardigheid aangepak en beïndruk met goed gestruktureerde, deeglik voorbereide argumente en kragtige teenargumente. Hulle het selfvertroue uitgestraal deur oortuigende lyftaal, duidelike stemgebruik en ‘n opregte entoesiasme vir hul standpunte. Hierdie optrede het hul vermoë om krities te dink en effektief te debatteer duidelik na vore gebring,” sê Nicolene Müller, AfriForum se koördineerder vir Onderwys in die suidstreek.
In die junior kategorie (graad 8 en 9) het Hoërskool Jan van Riebeeck se Karu Rademeyer, Ané Swanepoel en Emma Snijders koning gekraai terywl Hoër Meisieskool La Rochelle se Livia Lategan, Heleen-Mari Viljoen en Micke Gildenhuys as naaswenners uit die stryd getree het.
In die senior kategorie (graad 10, 11 en 12) het Hoërskool Dubanville se Cayla Fourie, Anouk Gerber en Sasika Cloete die goue trofee huis toe geneem terwyl Paul Roos Gimnasium se Dieter de Kock, Ben van Niekerk en Altus de Villiers die naaswenners was.
“Die hoërskooldebatspanne het ’n indrukwekkende vlak van openbare spreekkuns en kritiese denke getoon deur goed beredeneerde standpunte en selfversekerde optredes. Ons sien met opgewondenheid uit na die verdere ontwikkeling van hierdie kompetisie en die rol wat dit sal speel in die ontginning van jong debatteerders se volle potensiaal,” sluit Müller af.



