Nuwe AfriForum-buurtspan gereed om Kathu en Kuruman te verfraai
AfriForum se jongste buurtspan is nou omtrent ’n maand lank in Kathu en Kuruman bedrywig met allerhande take om dié dorpe, veiliger en skoner te maak. Munisipale verval het veral kleiner plattelandse dorpe hard getref en Kathu en Kuruman is nie gespaar nie.
AfriForum het in die Noord-Kaap ook buurtspanne in Kimberley en Keimoes en volgens Thomas van Dalen, AfriForum se Noord-Kaapse streekshoof, is daar baie om te doen en nie genoeg hande nie. “Die spanne is geskep om hul dorpe skoon te maak en werk te doen waar die betrokke munisipaliteite nie meer oor die vermoë beskik om dit te doen nie.”
Die spanne beskik onder meer oor bossiekappers, kettingsae en grassnyers om hul take te verrig. Elke span het sy eie voertuig en het tans twee lede elk. Kimberley en Keimoes se spanne is sowat vier jaar gelede op die been gebring. Elke dag ry hulle vuilgoed weg, verf straatname, doen herstelwerk, sit padtekens op, sny gras en snoei bome.
“Nie net verrig die spanne waardevolle dienste nie, maar dit skep ook werk vir persone wat andersins sou gesukkel het om standvastige werk te kry. Hulle sou waarskynlik los werkies moes doen en werklik van die hand na die mond leef,” verduidelik Van Dalen.
AfriForum se heel eerste buurtspan is meer as vyf jaar gelede in Centurion begin.
Hierdie span het ook met net ’n paar lede begin wat onder meer gras gesny en parke skoongemaak het. Dié span bestaan egter deesdae uit meer as 20 lede wat steeds bogenoemde doen, maar op veel groter skaal met groter grassnyers en selfs ’n trekker. ’n Volwaardige herwinningsdiens is ook al jare lank aan die inwoners van Centurion beskikbaar met die res van Pretoria wat ook onlangs toegang tot hierdie diens verkry het.
AfriForum het reeds 20 buurtspanne wat altesaam nagenoeg 100 persone in diens het. Die betrokke takke befonds elk hul eie buurtspan uit hul takfondse, maar van die buurtspanne wat al goed op dreef is, soos die een in Centurion, genereer ook fondse uit die projekte wat hulle aanpak.
“AfriForum se buurtspanne sluit in besonder aan by die idee van ankergemeenskappe en die vierde regeringsfeer, waar ons spesifiek in gebiede waar die grootste konsentrasie Afrikaners hulleself bevind, betrokke raak waar die munisipaliteite hulle plig versaak. Ons neem dan die verantwoordelikhede oor ten einde die leefomgewing vir die gemeenskap veilig te maak en kritieke dienste te lewer,” sê Van Dalen.
Sampie Steinberg, AfriForum se bestuurder vir Gemeenskapstrukture, sluit by Van Dalen aan. “AfriForum is bekend vir sy wonderlike vrywilligers wat hul eie tyd opoffer om hul dorpe en woonbuurte skoon en netjies te hou. Daar is egter baie meer werk as wat hierdie mense kan behartig en dus het AfriForum buurtspanne op die been gebring om te help om dié omvangryke take aan te pak. Hierdie spanne is nie net besig om ’n verskil in gemeenskappe te maak nie, maar ook om ’n toekoms te bou vir ons nageslag.”
Klik hier om meer oor AfriForum se buurtspanne uit te vind.



