Petrol, diesel, brandstof, fuel

AfriForum vra minister om besnoeiing van brandstofheffing te verleng

Klankgreep: Ernst van Zyl (Afrikaans)
Klankgreep: Ernst van Zyl (Engels)

AfriForum het gister in ’n brief ’n beroep op Enoch Godongwana, die Minister van Finansies, gedoen om die tydelike verlaging in die brandstofheffing permanent te maak en dit nie op 1 Julie te beëindig soos beplan word nie. In Maart het die organisasie die minister gevra om die brandstofheffing te verlaag eerder as te verhoog, soos aanvanklik beplan, om die impak van stygende oliepryse weens konflik in die Midde-Ooste te help versag. AfriForum het die minister se besluit verwelkom om so ’n verlaging op 31 Maart te implementeer. Hierdie verlaging van die brandstofheffing is egter slegs van ’n tydelike aard en sal na verwagting op die eerste dag van Julie eindig. AfriForum doen nou ’n beroep op die minister om hierdie verlaging permanent te maak, wat die ideale stap sou wees, of ten minste die tydperk wat dit geïmplementeer word aansienlik te verleng, aangesien oliepryse hoog bly en verdere skokke in die nabye toekoms baie waarskynlik is.

Volgens Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, loop die tydelike aard van die besnoeiing van die brandstofheffing die risiko om die prysdruk op Suid-Afrikaanse verbruikers, ondernemings en die ekonomie bloot uit te stel, eerder as om hulle te help om hierdie prysstyging heeltemal te oorkom. Dit is dus noodsaaklik om die verlaging permanent te maak of dit ten minste aansienlik te verleng.

“Die situasie in die Midde-Ooste bly op ’n mespunt en ’n mens sou naïef wees om te dink die wêreldekonomie is uit die moeilikheid. Groot prysskokke is steeds ’n baie werklike risiko. Dit is die regering se verantwoordelikheid om verbruikers en die ekonomie te help om hierdie pyn so doeltreffend moontlik te vermy en nie net om die impak vir ’n kort rukkie uit te stel nie,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik