| |

Taalheld 6 van 2026: Afrikaans en Suid-Afrikaanse flora in die internasionale kollig

Kort op die hakke van die wonderlike nuus dat die Suid-Afrikaanse flora-uitstalling onder leiding van Leon Kluge en Tristan Woudberg ’n veertigste goue medalje, asook die prys vir die beste uitstalling in die groot paviljoen by die 2026 Chelsea Blommeskou verower het, kom nog goeie internasionale nuus vir Afrikaans én Suid-Afrikaanse flora.

Deon Steyn, verteenwoordiger van die Afrikaanse Wikipedia, is gekies om ’n aanbieding by die jaarlikse Wikimania-konferensie oor die onderwerp “Rooting for knowledge: Why we need a Wiki-Botanist action group today!” te lewer.

Die Wikimania-konferensie word jaarliks deur die Wikimedia Stigting aangebied om onder meer projekte soos dié van Wikipedia, oopbronsagteware, die vrye beskikbaarstelling van kennis, asook sosiale en tegniese aspekte wat met hierdie onderwerpe verband hou, te bespreek.

Vanjaar se konferensie sal van 21 tot 25 Julie in Parys, Frankryk plaasvind en ook aanlyn beskikbaar wees.

Deon, wat al sewentien jaar lank as vrywilliger by die Afrikaanse Wikipedia betrokke is en pas sy 20 000ste artikel op hierdie webtuiste gelaai het, beplan om met die voorlegging op die vordering van ’n plaaslike florafotoprojek te fokus.  Hierdie projek behels die laai en ontsluiting van sowat 60 000 foto’s van inheemse flora wat deur prof. Braam van Wyk gratis aan die Afrikaanse Wikipedia beskikbaar gestel is en ook, soos alle foto’s op Wikipedia, kosteloos van hier af afgelaai kan word.

Deon Steyn

Prof. Van Wyk is ’n internasionaal gevierde planttaksonoom wat sedert 1977 aan die Universiteit van Pretoria verbonde is. Hy het al meer as 350 publikasies oor die plantkunde van Suider-Afrika geskryf, insluitend verskeie boeke as outeur of mede-outeur. Onder die toekennings wat hy ontvang het, tel die Silwermedalje vir Plantkunde van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Plantkundiges, die Allen Dyer-toekenning van die Vetplantvereniging van Suid-Afrika, die Havenga-prys vir Lewenswetenskappe van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Toekenning vir Uitsonderlike Akademiese Presteerder van die Universiteit van Pretoria. Hy geniet dit om kennis oor plante vir die publiek toeganklik te maak en het daarom sy fotoversameling wat oor jare met veldwerk opgebou is, met die Afrikaanse Wikipedia gedeel.

Deon ervaar enkele uitdagings met die ontsluiting van die foto’s vir die webtuiste, insluitend dat Wikispecies soms onakkurate inligting bevat, asook dat die koppelvlakke tussen Wikicommons (waar die foto’s gelaai word) en  Wikidata (wat alles koördineer) soms probleme oplewer. Verder is daar inligtingsverskille tussen die databassise van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI) en die internasionale toonaangewende Kew Koninklike Botaniese Tuine wat eers uitgeklaar moet word voordat inligting finaal gepubliseer kan word.

Sy aanbieding by die konferensie waar elkeen van die 343 Wikipedia’s verteenwoordig sal wees, sal oor die vordering van die projek, die genoemde uitdagings en sy voorgestelde oplossings handel.

Die Afrikaanse Wikipedia beskik tans oor ongeveer 129 204 artikels, met 206 364 geregistreerde gebruikers. Volgens die aantal artikels is die Afrikaanse Wikipedia 69ste uit die 343 Wikipedias wat die volume van inhoud aanbetref en beslis die grootste bron oor Suider-Afrikaanse flora.

In die verlede is daar dikwels neergesien op Wikipedia as ’n akademiese bron. Deesdae word dit toenemend deur die akademiese gemeenskap as ’n vertrekpunt vir navorsing gebruik en toon studies dat die akkuraatheid van die inligting daarop oor die algemeen dié van tradisionele ensiklopedieë ewenaar. Veral wat minder bekende onderwerpe of onderwerpe waaroor groot ideologiese standpuntverskille bestaan, aanbetref, mag gapings of foute wel voorkom. Nogtans erken taalregtedeskundiges regoor die wêreld dat veral minderheidstale se toekoms sterk deur die bestaan en grootte van Wiki-platforms in hulle eie tale afhang. Veral jongmense gebruik dit só gereeld dat ’n gebrek aan artikels oor tersaaklike onderwerpe hulle na die Engelse Wikipedia lei wat ongelukkig verengelsing wêreldwyd bevorder.

Tans kry die Afrikaanse Wikipedia gemiddeld 2,3 miljoen besoeke per maand! Die groei van hierdie bron in ons eie taal is dus van die allergrootste belang en daarom dank ons mense soos Deon en prof. Van Wyk vir hulle bydraes om dit uit te bou en die aandag op internasionale verhoë soos by Wikimania op ons taal en flora te vestig.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners