Vroue staan hul man tydens AfriForum se eerste vroue-protospanopleiding
AfriForum het verlede week ’n nuwe mylpaal in gemeenskapsveiligheid bereik toe 14 vroue uit verskillende takke in KwaZulu-Natal aan die organisasie se eerste protospanopleidingsessie uitsluitlik vir vroue deelgeneem het.
Die opleiding, wat van 24 tot 27 September plaasgevind het, is bygewoon deur vroue-buurtwaglede van Vryheid, Paulpietersburg en Newcastle.
AfriForum se protospanne bestaan uit opgeleide lede van sy gemeenskapsveiligheidstrukture wat toegerus word om onder meer in hoëdruk- en noodsituasies op te tree. Die opleiding sluit praktiese vaardighede soos taktiese vuurwapenhantering, selfverdediging, radiokommunikasie, die beveiliging en benadering van misdaadtonele, voertuig- en geboubenaderings, optrede tydens gewelddadige voorvalle en basiese mediese noodoptrede in.
Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor Gemeenskapsveiligheid, is die opleiding ’n belangrike mylpaal, maar ook ’n bewys dat vroue ’n al hoe groter rol in die beveiliging van hul gemeenskappe speel.
“Protospanopleiding is veeleisend. Dit plaas deelnemers in situasies waar hulle onder druk moet dink, kommunikeer, besluite moet neem en verantwoordelik moet optree. Hierdie dames het gewys dat hulle hul plek binne hierdie operasionele omgewing volstaan. Ons is geweldig trots op hulle.”
Yshrene Pillay van Vryheid, een van die deelnemers, sê veiligheid is vir haar in besonder belangrik omdat sy op ’n plot woon.
“Veiligheid en sekuriteit is vir my uiters belangrik. Die vier dae se taktiese opleiding het my waardevolle praktiese vaardighede geleer in onder meer waaksaamheid, dissipline, verantwoordelikheid en om kalm te bly onder druk. Ek is opreg dankbaar teenoor AfriForum vir hierdie geleentheid en vir die belegging in ons veiligheid en paraatheid,” sê Pillay.
Linda de Jager, voorsitter van AfriForum se Vryheid-tak, het ook die opleiding voltooi. Sy sê haar doel was om haar kennis en vaardighede in veilige vuurwapenhantering te verbeter en praktiese ervaring in misdaadvoorkoming binne spanverband op te doen.
“Die opleiding het vir my die geleentheid gebied om my kennis en vaardighede uit te brei, maar ook om my persoonlike ontwikkeling en dissipline te versterk. As ’n vrou wat alleen woon, is dit vir my belangrik om oor die kennis en vaardighede te beskik om verantwoordelik na my eie veiligheid om te sien,” sê De Jager.
Broodryk sê vroue speel reeds op talle vlakke ’n kernrol binne AfriForum se buurt- en plaaswagstrukture, en dat hulle betrokkenheid by meer gevorderde opleiding verder uitgebrei moet word.
“Veilige gemeenskappe word gebou deur gewone mense wat bereid is om verantwoordelikheid te aanvaar en hulself toe te rus om ander te help. Hierdie vroue het presies dit gedoen. Hulle het vier dae lank hard gewerk om vaardighede aan te leer wat hulle hopelik nooit in ’n werklike noodsituasie hoef te gebruik nie, maar wat van onskatbare waarde kan wees wanneer sekondes tel.”



