|

Ses keer aangemeld by munisipaliteit, maar besoedeling van Vaalrivier duur steeds voort – AfriForum eis optrede

Die storting van onverwerkte riool in die Leeuwspruit in Sasolburg is al minstens ses keer by die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit aangemeld, en stééds is daar niks gedoen om dié besoedeling hok te slaan nie. Die spruit vloei nagenoeg 4 km verder in die Vaalrivier. AfriForum se Sasolburg-tak dring daarom nou by dié munisipaliteit daarop aan om dadelik die stortingspunt in die omgewing van Waterkantstraat, in die ooste van die dorp, te herstel en daadwerklike stappe te doen om verdere storting van onverwerkte riool in dié spruit te voorkom.

In ’n skrywe wat verlede week aan Basi Motloung, munisipale bestuurder van die Metsimaholo-munisipaliteit, gerig is, dring AfriForum voorts daarop aan dat die munisipaliteit ondersoek moet instel na die storting van riool vanaf privaat eiendomme in openbare ruimtes; dat die munisipaliteit toepaslike wetgewing en munisipale verordeninge moet afdwing in gevalle waar dergelike storting voorkom; en dat die munisipaliteit moet aandui watter regstellende stappe gedoen is om die probleem op te los.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is die munisipaliteit se skynbare miskenning van die rits klagtes oor die betrokke besoedeling ’n skande. “Dit is onaanvaarbaar dat klagtes bloot onbeantwoord of onopgelos bly, terwyl die storting van rou riool steeds voortgesit word,” verduidelik sy.

“Die Vaalrivier is ’n strategiese ekonomiese en omgewingsbate vir Sasolburg en ander streke waardeur die rivier vloei. Die besoedeling van die Vaalrivierstelsel hou daarom ernstige risiko’s in vir die omgewing en die plaaslike ekonomie, maar ondanks dié risiko’s versuim die munisipaliteit steeds om die besoedeling te stop.”

Die Metsimaholo-munisipaliteit het ’n grondwetlike en statutêre verantwoordelikheid om besoedeling te voorkom en sanitasie-infrastruktuur behoorlik te bestuur. AfriForum wys in sy skrywe onder meer op artikel 24 en artikel 152 van die Grondwet, die Nasionale Waterwet, die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en die Wet op Waterdienste. Hierdie wetgewing plaas die verantwoordelikheid op owerhede om besoedeling te voorkom en volhoubare sanitasiedienste te lewer.

David Wright, voorsitter van AfriForum se Sasolburg-tak, meen AfriForum kan nie bloot toekyk hoe rioolbesoedeling voortduur en gemeenskappe en waterbronne in gevaar gestel word nie. “Ons verwag konkrete optrede en ’n permanente oplossing. Indien die munisipaliteit versuim om op te tree, sal AfriForum verdere beskikbare stappe oorweeg om verantwoordbaarheid af te dwing,” sluit hy af.

Die munisipaliteit moet teen eerskomende Donderdag (20 Augustus) aan AfriForum se eise in dié verband gehoor gee. Die organisasie staan gereed om die saak na die toepaslike regulatoriese owerhede te verwys of regstappe te doen, sou die munisipaliteit misluk om gehoor te gee.

Raak betrokke

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Sasolburg-tak. Kontak vir David Wright (083 301 9933) vir meer inligting.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik