Legende van AfriForum se Kempton Park-tak tree uit
’n Legende van AfriForum se Kempton Park-tak het die tuig as voorsitter neergelê ná hy vir bykans 12 jaar op dié tak se bestuur gedien het. Jan Vermaak se toewyding tot dié tak en gemeenskap is alom bekend en die impak van projekte wat die tak aangepak het, is oral in dié Oos-Randse stad te sien.
AfriForum se Kempton Park-tak is op 16 Oktober 2014 gestig en Vermaak het reg van die begin af op dié tak se bestuur gedien. Hy was eers as ondervoorsitter aangewys, maar is in 2015 tot voorsitter verkies – ’n rol wat hy met vasberadenheid en ’n sin vir verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap met lof vervul het.
Vermaak sê daar is verskeie redes hoekom hy by die Kempton Park-tak betrokke geraak het. “Ek wou ’n verskil in die gemeenskap maak om dienslewering te verbeter, misdaad te bekamp en infrastruktuurprobleme aan te pak. Eerder as om net oor die probleme te kla, het ek besluit om deel van die oplossing te word en as deel van ’n groep is ’n mens se stem sterker as ’n enkele inwoner wat maklik geïgnoreer kan word.”
AfriForum se fokus is op die bou van ’n veilig en voorspoedige toekoms en Vermaak wou uit die staanspoor ook as deel van die Kempton Park-tak bou aan ’n toekoms vir sy kinders, kleinkinders en die gemeenskap. Dié tak het verskeie projekte aangepak om Kempton Park veiliger te maak en die woonbuurt ’n meer aanloklike plek te maak om te woon en besoek.
“Ek het my persoonlike ondervinding met swak dienslewering, misdaad en ander gemeenskapsprobleme as vertrekpunt gebruik vir my werk by AfriForum. Ek het persoonlik betrokke geraak omdat ek glo dat ’n mens nie net ’n inwoner moet wees nie, maar ook verantwoordelikheid moet aanvaar vir die dorp waarin jy woon,” sê Vermaak.
Vermaak meen die vraag is nie wat die organisasie vir jou kan doen nie, maar eerder wat die individu kan doen om sy gemeenskap beter, veiliger en sterker te maak. Hy kyk met trots terug na die gesondheidsentrum wat tydens die Covid-19-pandemie geopen is en die kamerastelsel wat in gebruik geneem is om misdaad te bekamp.
Wanneer daar werk gedoen moet word, is hy iemand wat bereid is om die ekstra myl te stap.
Corné Cronjé, hoof vir Gemeenskapsbou by AfriForum, sê Vermaak gaan by die tak gemis word. “Jan is iemand wat reguit praat en by sy beginsels staan. Met hom weet ’n mens altyd waar jy staan. Sy gemeenskap is vir hom belangrik, en wanneer daar werk gedoen moet word, is hy iemand wat bereid is om die ekstra myl te stap.
“Jan se nalatenskap by die Kempton Park-tak lê daarom nie net in die projekte wat aangepak is of die infrastruktuur wat opgebou is nie, maar veral in die kultuur van diensbaarheid, selfstandigheid en gemeenskapsbetrokkenheid wat hy help vestig het. Dankie, Jan, vir elke ekstra tree wat jy vir jou gemeenskap gestap het,” sê Cronjé.
Vermaak se boodskap vir die mense van Kempton Park en die res van die land
“Sonder AfriForum se Kempton Park-tak sou daar waarskynlik minder georganiseerde burgerlike druk en aanspreeklikheid wees. Probleme wat vandag onder die aandag van owerhede gebring word, sou makliker geïgnoreer kon word. AfriForum kan nie elke probleem oplos nie, maar dit verseker dat mense nie stil hoef te bly wanneer hul regte en gemeenskappe benadeel word nie.”
“Dit is maklik om vandag te voel dat alles in Suid-Afrika skeefloop en dat ons pogings niks verander nie, maar verandering gebeur nie oornag nie en dit gebeur veral nie wanneer goeie mense moed opgee en stilbly nie. Elke persoon wat bereid is om op te staan, betrokke te wees by ’n organisasie soos AfriForum en ’n verskil in sy gemeenskap wil maak, dra by tot ’n beter Suid-Afrika,” sluit Vermaak af.



