|

Kommerwekkend min straatligte by Pretoria-skole deur AfriForum blootgelê

AfriForum se Groter Pretoria-Oos-tak het onlangs met ’n veiligheidsoudit begin wat bepaal hoe goed die straatbeligting rondom skole in onder meer Garsfontein, Waterkloof, Elarduspark en Constantiapark is. Die voorlopige bevindings is dat slegs een van die ses skole wat reeds geoudit is oor voldoende werkende straatbeligting beskik. Altesaam drie van die skole het enkele straatligte wat werk, terwyl die res geen werkende straatbeligting het nie.

Volgens Fanus Johnson, voorsitter van AfriForum se Groter Pretoria-Oos-tak, skep swak straatbeligting onnodige veiligheidsrisiko’s vir almal wat van die skole gebruik maak. “Skole is nie net gedurende skoolure bedrywig nie. Sportbyeenkomste, kultuuraktiwiteite en ander funksies vind gereeld saans plaas. Wanneer strate rondom skole in donkerte gehul is, stel dit leerders, ouers, personeel en besoekers onnodig aan veiligheidsrisiko’s bloot. Hierdie is ’n basiese diens wat die Tshwane-metro behoort te lewer.”

AfriForum sal die oudit in die komende weke na nog sowat tien skole uitbrei voordat die volledige bevindings aan die betrokke wyksraadslede en die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit voorgelê word. Die doel is om die herstel van straatligte rondom skole te bespoedig en sodoende die veiligheid van skoolgemeenskappe te verbeter.

“Ons wil graag saam met die metro werk om hierdie probleem op te los. Indien daar egter nie binne ’n redelike tyd opgetree word nie, sal AfriForum ondersoek instel na moontlike samewerking met skole se beheerliggame en ander vennote om praktiese oplossings te vind. Gemeenskappe kan nie toelaat dat swak dienslewering die veiligheid van hul kinders in gedrang bring nie,” sê Johnson.

AfriForum doen ’n beroep op inwoners om gebrekkige straatligte by die Tshwane-metro aan te meld en terselfdertyd by hul plaaslike AfriForum-tak of -buurtwag betrokke te raak om gemeenskapsveiligheid te help versterk.

“Veilige skole begin by veilige strate. Dit is in almal se belang dat die omgewing rondom skole veilig en goed belig is,” sluit Johnson af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf