SAMRK-verslag oor munisipale dienslewering bevestig jarelange probleme in Noord-Kaap
Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se verslag oor munisipale dienslewering in die Noord-Kaap bevestig wat AfriForum al jare lank sê: dié provinsie ervaar ernstige en volgehoue tekortkominge in basiese dienslewering. Volgens die organisasie wys die verslag nie net probleme uit nie, maar beklemtoon ook die dringendheid waarmee volhoubare oplossings geïmplementeer moet word. AfriForum het reeds begin om in sekere gebiede self by diensleweringsinisiatiewe betrokke te raak en beplan om hierdie rol verder uit te brei waar munisipaliteite versuim om hul verantwoordelikhede na te kom.
Die SAMRK-verslag, wat op 22 April in Kimberley bekendgestel is, beslaan 178 bladsye en spruit voort uit ’n ondersoek ná toenemende klagtes oor swak dienslewering in verskeie Noord-Kaapse munisipaliteite. Van die belangrikste bevindinge fokus op swak finansiële bestuur, ’n ernstige tekort aan gekwalifiseerde personeel en onvoldoende beplanning en instandhouding van infrastruktuur. Hierdie faktore het direk gelei tot volgehoue probleme met basiese dienste soos water, sanitasie en afvalverwydering. Die verslag wys ook daarop dat heelwat munisipaliteite hoofsaaklik op krisisbestuur staatmaak, eerder as om langtermynoplossings te ontwikkel en infrastruktuur sistematies te onderhou. Die verslag verwys pertinent na die reuse-rioolstortings in die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit (Kimberley) waar rou riool direk in die Kamferdam gestort word en die Renosterberg Plaaslike Munisipaliteit (Petrusville en Vanderkloof) waar munisipale dienste in sy geheel in duie gestort het. Die mees kommerwekkende aspek van die verslag is dat daar bevind is dat 20 munisipaliteite aan die vereistes vir artikel 139 van die Grondwet voldoen, wat provinsiale regerings toelaat om beheer oor ’n munisipaliteit oor te neem indien dit nie sy statutêre pligte nakom nie
Luidens AfriForum beklemtoon die verslag die noodsaaklikheid van daadwerklike optrede deur beide owerhede en burgerlike organisasies. Die organisasie het reeds in verskeie dorpe begin om gemeenskappe te ondersteun deur praktiese projekte wat daarop gemik is om agterstande in dienslewering te verlig. Dit sluit onder meer in die herstel en instandhouding van plaaslike infrastruktuur, die organisering van gemeenskapsinisiatiewe en die monitering van munisipale prestasie. AfriForum is van mening dat samewerking tussen gemeenskappe en organisasies ’n kritieke rol speel in die beskerming van infrastruktuur en die verbetering van dienslewering.
“Dit is duidelik uit die verslag se bevindinge dat diensleweringsprobleme in die Noord-Kaap nie deur een enkele faktor veroorsaak word nie, maar deur ’n kombinasie van swak bestuur, finansiële probleme en personeeltekorte,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se Noord-Kaapse streekshoof. “Hierdie verslag bevestig wat gemeenskappe al lank ervaar en dit beklemtoon die noodsaaklikheid vir volhoubare oplossings en beter bestuur op alle regeringsvlakke.”
Van Dalen voeg by dat organisasies soos AfriForum ’n toenemend belangrike rol speel in gemeenskappe waar dienslewering agteruitgaan. “Alhoewel dit uiteindelik die staat se plig bly om basiese dienste te lewer, wys die werklikheid dat gemeenskappe dikwels self moet saamstaan om oplossings te vind. AfriForum sal voortgaan om as gemeenskapswaghond op te tree en waar nodig, praktiese hulp te bied om diensleweringsprobleme te help oplos.”
AfriForum sal die aanbevelings van die SAMRK-verslag noukeurig bestudeer en voortgaan om saam met plaaslike gemeenskappe oplossings te ontwikkel wat volhoubare dienslewering kan ondersteun. Die organisasie doen ook ’n beroep op provinsiale en nasionale owerhede om daadwerklik op te tree waar munisipaliteite nie aan hul grondwetlike verpligtinge voldoen nie. Die sukses van enige herstelproses sal afhang van verantwoordelike bestuur, doeltreffende toesig en samewerking tussen alle rolspelers.



