Vrae oor beweerde pogings om weduwee van vermoorde DA-raadslid uit te sluit van pleitooreenkoms met beweerde moordenaars
AfriForum se privaatvervolgingseenheid het sy diepe kommer oorgedra aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) oor skynbare pogings om Nhlalayenza Ndlovu, die vermoorde DA-hoofsweep van die uMngeni Plaaslike Munisipaliteit, se weduwee, Pretty Ndlovu, uit te sluit uit die pleitonderhandelinge met van sy beweerde moordenaars. Die eenheid verteenwoordig Pretty en die munisipaliteit. Pretty het op 4 Desember 2023 gesien hoe die aanvallers haar man minstens tien keer by hul huis in eMasosheni, buite Howick in KwaZulu-Natal, skiet.
Die eenheid is ingelig dat Pretty as “’n probleem” bestempel is, dat ondersoekbeamptes gevolglik ander familielede genader het om te verhoed dat sy haar regte uitoefen, en hul geheime samewerking gevra het om dokumente te onderteken omdat “Pretty ’n probleem is”. Die betrokke familielede het na bewering opdrag gekry om Pretty nie hieroor in te lig nie.
Dié optrede volg op die NVG se volgehoue versuim om sinvol te reageer op korrespondensie rakende die voorgestelde pleitooreenkoms tussen die staat en die beskuldigdes. Die eenheid se pogings om saam met Pretty met die staat te konsulteer, het ook nie gerealiseer nie.
Die eenheid het reeds in Maart vanjaar, en in daaropvolgende kommunikasie, sy kommer uitgespreek oor Pretty se skynbare uitsluiting uit die pleitproses. Dit het voorgekom asof aanklaers daarop gefokus het om skuldigbevindings teen die sogenaamde voetsoldate (oftewel laervlakdeelnemers) in die Ndlovu-moordkomplot te bekom, terwyl hulle staatgemaak het op die getuienis van een beskuldigde om die vermeende meesterbrein te impliseer. Die betrokke beskuldigde sou egter later die ooreenkoms kon verbreek en die saak kon kelder.
Die eenheid het aangevoer dat dit in die belang van geregtigheid, die familie en die gemeenskap is om die hof toe te laat om ’n behoorlike bevinding oor die pleit te maak, en die volledige besonderhede rakende die beweerde sameswering en die spesifieke rol van elke beskuldigde voor die hof te plaas.
In sy korrespondensie met die NVG het advokaat Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, verlede week (10 Julie) sy kommer herbevestig en aangevoer dat slagoffers van misdaad ’n sentrale rol in regspleging speel. Hy het benadruk dat daar nie toegelaat kan word dat die eenheid se kliënte se regte geminag word, terwyl daar ’n skynbare doelbewuste narratief is om deur geheimhouding aanspreeklikheid vry te spring nie. Nel het ook aangevoer dat die vervolging en verdediging skynbaar daarop uit is om die eenheid se kliënte se reg op die maak van voorleggings, as deel van ’n deursigtige en toeganklike hofproses, te probeer omseil.
Nel het die NVG ook daaraan herinner dat die eenheid se kliënte nie enige spesiale behandeling of voorregte vra nie, maar bloot hul regte wil uitoefen soos vervat in artikel 105A van die Strafproseswet, 1977. Die uitoefening van dié regte staan, volgens Nel, aan die kern van die NVG se doelwit van ’n slagoffer-gefokusde benadering.
Die beskuldigdes verskyn môre (Woensdag 15 Julie) weer in die hof.



