Stem nou vir jou gunstelinge vir vanjaar se Tinteltong Toekennings
Die nominasies is in en dit is nou tyd vir die publiek om vir hul gunstelinge in die onderskeie afdelings van vanjaar se AfriForum Sakenetwerk Tinteltong Toekennings te stem. In vanjaar se kompetisie sal wenners in vier afsonderlike kategorie in die noord-, sentraal- en suidstreek aangewys word en sal ondernemings met die pittigste Afrikaans slagspreuk, kreatiefste Afrikaanse naam, beste diens in Afrikaans en uitstaande bydrae tot die Afrikaanse gemeenskap op ware Tinteltong-wyse koning kraai!
“Ons is opgewonde oor al die nominasies wat ons ontvang het en om te sien wat elke onderneming uniek maak. Dit is verblydend om te sien hoeveel ondernemings nog die moeite doen om in Afrikaans sake te doen en sodoende help om die taal en kultuur te bewaar,” sê Corné Cronjé, hoof van Gemeenskapsbou by AfriForum.
Hoe stem ’n mens?
Die nominasieproses is op 31 Maart afgehandel en dit is nou tyd om te stem. Die publiek mag een stem in elk van die vier afdelings uitbring.
Die afdelings is:
- Kreatiewe Afrikaanse slagspreuk
- Kreatiewe Afrikaanse naam
- Uitstekende diens in Afrikaans
- Uitstaande bydrae tot die Afrikaanse gemeenskap
Besoek AfriForum Sakenetwerk of die bostaande skakels vir die onderskeie afdelings om jou stem te laat hoor. Elke afdeling bevat ’n volledige lys van alle nominasies met meer inligting oor die onderskeie ondernemings. Die stemproses is so maklik soos 1-2-3. Klik bloot die kassie by jou gunstelingonderneming, voltooi die meegaande stemvorm en siedaar, jou stem word getel. Die stemproses sluit Sondag 26 April.
“AfriForum Sakenetwerk bied reeds sedert 2016 die Tinteltong Toekennings aan. Die kompetisie het oor die afgelope tien jaar merkwaardige gegroei ondergaan. Daar is byvoorbeeld vanjaar in die afdeling vir uitstekende diens in Afrikaans meer as 50 nominasies ontvang,” verduidelik Cronjé.
“Ons moedig ondernemings aan wat nie vanjaar genomineer is nie, om ook by hul plaaslike AfriForum Sakenetwerk in te skakel en sodoende deel te word van ’n sakegemeenskap waar die lede mekaar onderling kan ondersteun,” sluit hy af.
Ná afloop van die stemproses sal wenners by spoggeleenthede in Pretoria, Bloemfontein en Kaapstad in elke afdeling aangekondig word. Hou Forum Nuus dop vir die aankondiging.



