Regering swyg steeds oor landelike geweld ondanks tien plaasaanvalle in Mei – AfriForum
Die regering se stilswye oor die tien plaasaanvalle en verwante gewelddadige voorvalle wat gedurende Mei aangemeld is, is volgens AfriForum verdere bewys dat die owerheid versuim om die erns van dié soort misdaad te erken. Die vlakke van geweld wat met hierdie aanvalle gepaardgaan bly kommerwekkend hoog en onderstreep die noodsaaklikheid dat die regering plaasaanvalle as ’n unieke en ernstige vorm van misdaad erken en dienooreenkomstig optree.
Verskeie slagoffers is die afgelope maand in plaasaanvalle aangerand, vasgebind en ernstig beseer. In twee afsonderlike voorvalle is slagoffers geskiet, waaronder twee plaaswerkers in die Zebediela-omgewing in Limpopo. Dié slagoffers het ernstige skietwonde opgedoen terwyl hulle van die aanvallers probeer vlug het. Gesinne in onder meer Delmas, Stellenbosch en die De Wildt-omgewing is in hul huise aangeval, terwyl verskeie aanvalle slegs afgeweer is danksy die vinnige reaksie van plaaslike veiligheidsrolspelers en gemeenskapsveiligheidstrukture.
Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, sê dit is duidelik dat landelike gemeenskappe steeds onder die voortdurende bedreiging van ernstige geweld leef.
“Die regering probeer telkens die erns van plaasaanvalle afmaak as bloot nog misdaadstatistieke, maar die werklikheid is dat boere, plaaswerkers en landelike inwoners steeds aan uiters gewelddadige aanvalle blootgestel word. Wanneer mense in hul huise vasgebind, gemartel, geskiet en aangerand word, kan niemand beweer dat daar nie ’n ernstige veiligheidskrisis in die landelike dele van Suid-Afrika bestaan nie,” sê hy.
“Dit is veral kommerwekkend dat die regering weier om die politieke en sosiale klimaat aan te spreek wat hierdie geweld aanhelp. Terwyl plaasaanvalle voortduur, bly die regering stil oor openbare figure wat verdeeldheid saai en geweld teen boere aanhits. Die volgehoue versuim om dreunsange soos ‘Kill the Boer’ onomwonde te veroordeel, stuur ’n gevaarlike boodskap dat die veiligheid van landelike gemeenskappe nie ernstig opgeneem word nie. ’n Regering wat werklik verbind is tot die beskerming van sy burgers, sou nie toelaat dat sulke boodskappe genormaliseer word nie.”
AfriForum beklemtoon dat gemeenskappe nie hul veiligheid uitsluitlik in die hande van die staat kan laat nie en doen ’n beroep op boere en landelike inwoners om proaktief op te tree en paraat te bly.
“Die werklikheid is dat baie aanvalle afgeweer is omdat georganiseerde gemeenskapsveiligheidstrukture vinnig kon reageer. AfriForum moedig daarom boere, plaaswerkers en landelike inwoners aan om by hul plaaslike AfriForum-buurt- of plaaswag betrokke te raak,” sê Broodryk.
“AfriForum sal voortgaan om sy veiligheidsnetwerke uit te brei, gemeenskappe op te lei en hulle toe te rus om verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid te neem. Die regering se versuim om hierdie probleem ernstig op te neem beteken dat gemeenskappe meer as ooit tevore op hulself en mekaar sal moet staatmaak.”
Klik hier om vandag nog by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke te raak.



