|

Pak jul goed en trek, eis AfriForum van Ngwathe-raad

Klankgreep: Alta Pretorius (Afrikaans)

Klankgreep: Alta Pretorius (Engels)


AfriForum het vanoggend kartonbokse vir Victoria de Beer, burgemeester van die sukkelende Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit, se “groot trek” by die munisipale kantoor in Parys afgelaai. Dié gebaar volg in reaksie op die hofuitspraak wat op 20 Februarie in AfriForum se guns in die Hooggeregshof in Bloemfontein gelewer is en bepaal dat die hofbevel van 20 Junie 2025, ondanks die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl by die Konstitusionele Hof, onmiddellik geïmplementeer moet word.  

Kragtens die Junie 2025-bevel moet die munisipale raad ontbind en moet die provinsiale regering by die munisipaliteit ingryp.

“Ons het dit goedgedink om vir die munisipaliteit bokse te bring vir die trek, want hulle kom net nie tot op die punt om hul goed op te pak en die implementering van die hofbevel te laat voortgaan nie. Intussen gaan hulle, ondanks die feit dat dienslewering hier lank al nie meer op standaard is nie, voort met die een appèl ná die ander en dit met belastingbetalers se geld,” verduidelik Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die groep van ses mense, waaronder vier inwoners van die dorp, wat die oorhandiging behartig het, is egter kil ontvang by die munisipale kantoor en van die terrein af verjaag. In ’n video wat Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentrale deel van die land, opgeneem het, kan gesien word hoe munisipale amptenare die bokse wegskop (sien video onderaan hierdie verklaring).

In die bevel wat regter M. Opperman in Februarie gelewer het, het hy dit duidelik gestel dat die “sistemiese tekortkominge” in dié munisipaliteit gelei het tot die lewering van besoedelde water, herhaalde rioolstortings, finansiële insolvensie en gebrekkige bestuur, en dat dit “dringende en besliste remediëring” noodsaak. Hy het voorts benadruk daar ingevolge die Grondwet ’n verpligting is om by omstandighede soos dié in te gryp.

“Die munisipaliteit is reeds sedert 2021 aan bewind en kon in die afgelope meer as vier jaar nog nie daarin slaag om dienslewering in Parys, Heilbron, Vredefort en die ander dorpe in die Ngwathe-munisipaliteit reg te ruk nie. De Beer en haar raad moet nou vir eens in die belang van die inwoners optree, hul kantore ontruim en die provinsie kans gee om dienslewering in samewerking met privaat organisasies te herstel,” sluit Pretorius af.

Johann Swart, ’n inwoner van Parys, en AfriForum se Jaco Grobbelaar en Alta Pretorius voor die oorhandiging.

Die munisipaliteit hou intussen vol dat dit teen Februarie se uitspraak gaan appelleer. AfriForum het egter nog geen bevestiging van die appèl ontvang nie.

AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te bly, onreg te rapporteer en saam te werk om plaaslike regering verantwoordbaar te hou. Kontak Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, by 082 653 4281 om by AfriForum se Parys-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik