Ottosdal-tak herstel bykans 270 slaggate op dié dorp
AfriForum se Ottosdal-tak het onlangs self noodsaaklike instandhoudingswerk aan dié dorp se padinfrastruktuur gedoen nadat herhaalde versoeke aan die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit vir meer as drie jaar onbeantwoord gebly het. Die tak het oor die afgelope drie weke 267 slaggate in Ottosdal opgevul. Hoewel slaggate oor die dorp heen herstel is, het Marais-, Moorcroft-, Voortrekker- en Louwstraat van die meeste en grootste slaggate gehad.
“Die dorp se paaie is in ’n uiterse swak toestand, wat daaglikse verkeer bemoeilik en voertuie aan onnodige skade blootstel. Met hierdie herstelwerk is verskeie paaie weer toeganklik vir inwoners en besoekers. Die tak beplan daarom om voort te gaan om nog slaggate te herstel so lank as wat die munisipaliteit versuim om dit te doen,” sê JP Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
Die tak het onlangs meer as 1,5 hektaar se gras op leë erwe en langs sypaadjies gesny, asook sowat 10 sakke se vullis verwyder. Volgens Nel beloop die uitgawes van dié weeklikse skoonmaakprojek duisende rand per maand. Dit terwyl die gemeenskap steeds maandeliks opdok vir instandhouding wat die munisipaliteit bloot nie doen nie.
“Gemeenskappe kan nie onbepaald wag vir basiese dienslewering terwyl infrastruktuur verder agteruitgaan nie. Ons vrywilligers het daarom besluit om op te staan en self oplossings te bied waar dit nodig is. Hierdie projekte wys wat moontlik is wanneer mense verantwoordelikheid vir hul gemeenskap aanvaar en saam werk om ’n verskil te maak,” sê Nel.
“Die munisipaliteit kom eenvoudig nie sy pligte na nie en AfriForum sal aanhou om druk toe te pas om te verseker dat die munisipaliteit verantwoordbaar gehou word hiervoor.”
Die tak bedank graag al die vrywilligers en ondersteuners wat hul tyd, toerusting en hulpbronne beskikbaar gestel het om hierdie projekte moontlik te maak. AfriForum se Ottosdal-tak sal voortgaan om praktiese oplossings te bied en die dorp se inwoners se belange te dien waar dienslewering tekortskiet.
Raak vandag nog by AfriForum betrokke. Klik hier vir meer inligting.



