| | |

Emosionele selfstandigheid: die sleutel tot veilige skole en gelukkige kinders

Emosionele selfstandigheid – of emosionele veerkragtigheid – is die vermoë om jou eie emosies te herken, te bestuur en selfstandig te hanteer sonder om heeltyd op ander se goedkeuring of inmenging staat te maak. Dit gaan oor selfvertroue, selfwaarde en die innerlike krag om uitdagings soos teleurstelling, konflik of afknouery te trotseer sonder om ineen te stort of aggressief te reageer. In ’n land soos Suid-Afrika, waar boeliegedrag in skole ’n ernstige krisis is, is dit nie net belangrik  nie, maar noodsaaklik dat ons hierdie lewensvaardigheid vir ons kinders van kleins af moet aanleer.

Volgens data van die Departement van Basiese Onderwys en UNICEF ervaar ongeveer 3,2 miljoen Suid-Afrikaanse leerders elke jaar boeliegedrag – rofweg dubbel die wêreldgemiddeld. Meer as die helfte van alle skoolgaande kinders het al een of ander vorm van boeliery ondervind (met studies wat syfers tussen 47% en 74% toon, afhangende van die graad en streek), en 67% meld die gevalle nooit aan nie uit vrees vir verdere teistering, viktimisering of omdat hulle geen vertroue in hulp het nie. Die gevolge is verwoestend: angs, depressie, akademiese agteruitgang, skoolverlating (1 uit 10 leerders val uit die skoolsisteem as gevolg van boeliery) en selfs selfdoodgedagtes by slagoffers. Maar boelies self ly ook. Baie kom uit wanfunksionele huishoudings, het onbeantwoorde emosionele behoeftes of het al self trauma beleef. Hulle boelie nie omdat hulle “sleg” is nie, maar omdat hulle nie geleer het om emosies gesond te hanteer nie. Om net die boelie te straf sonder om hom of haar te help, los die kernprobleem onaangeraak en skep dikwels ’n nuwe generasie slagoffers of kriminele.

Dit is daarom van kardinale belang om ons kinders van jongs af te leer om boeliegedrag teë te staan. Emosionele selfstandigheid bou presies dáárdie vermoë: Kinders leer om selfbewus te wees en hul emosies te reguleer en met empatie op te tree. Sosiale-emosionele leerprogramme het reeds wêreldwyd bewys dat dit boeliery voorkom, aggressiwiteit verminder en kinders help om op te staan eerder as om stil te bly. Wanneer kinders vroeg leer om “ek-boodskappe” te gebruik (“Ek voel seergemaak wanneer jy my spot”), om saam te staan en om positiewe woorde en dade te kies, word die “boeliereus” – soos AfriForum dit treffend noem – swakker.

AfriForum se Teenboelieveldtog wat sedert 2017 by laer-en hoërskole reg oor die land aangebied word is ’n baie suksesvolle en praktiese inisiatief van AfriForum. Die aanbiedings by skole is baie gewild en het reeds honderde skole en tienduisende leerders, onderwysers en ouers bereik. Die veldtog gebruik ’n eenvoudige maar kragtige metafoor. Mattheus, die Teenboeliegelukbringer (Engels: “mascot”) wat leerders toerus met die wapentoerusting van God:

  • Die gordel van waarheid
  • Borsharnas van geregtigheid
  • Skoene van bereidwilligheid vir die evangelie van vrede
  • Skild van geloof
  • Helm van verlossing
  • Swaard van die gees

Hierdie “wapentoerusting” leer leerders om hulself te beskerm en in die proses vind daar ook groei in hul emosionele volwassenheid plaas.

AfriForum bied ook verskeie gratis, hoëgehaltehulpbronne:

  • Die Teenboeliegids (vir leerders, ouers en onderwysers) met besprekingsvrae, aktiwiteite en sewe vaardighede om boelies teë te staan.
  • Die Kuberboeliegids wat tegnologiegevare, sosiale media en “sexting” hanteer.
  • Die nuwe Boelie- en kuberboeliegedrag by skole: ’n Praktiese gids vir ouers wat ouers stap vir stap leer hoe om emosioneel te ondersteun, klagtes by skole te hanteer en ernstige gevalle by die SAPD aan te meld.
  • Die Boelieboks (anonieme aanmeldingsboks) saam met meegaande plakkate wat leerders aanmoedig om voorvalle veilig aan te meld sonder om bang te wees.

Hierdie hulpbronne is nie net teoreties nie – hulle beklemtoon empatie vir almal: Slagoffers kry ondersteuning, boelies word gehelp om verantwoordelikheid te neem en empatie te ontwikkel, en omstanders word bemagtig om betrokke te raak.

Ons kan nie langer wag dat skole alleen die probleem oplos nie. Ouers, onderwysers en gemeenskappe moet saamwerk. Laai gerus AfriForum se gidse af by www.onsskole.co.za.

Vra jou skool om ’n Teenboelie-aanbieding te bespreek deur ’n e-pos te stuur na onderwys@afriforum.co.za.

Leer jou kind om sy of haar emosies te ken, grense te stel en ander op te bou. So kweek ons nie net kinders wat teenstand kan bied teen boelies en boeliegedrag nie, maar ook ’n generasie wat veiliger, vriendeliker en emosioneel sterker skole en gemeenskappe bou.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners